Agriculture
Familieboere moet baat vind by bloubessie-uitvoer─── ISABEL VAN TONDER 09:59 Sat, 19 Sep 2026
’n Voorgestelde nultarief-reëling wat Suid-Afrikaanse bloubessies toegang tot die Chinese mark gee, kan ’n belangrike geleentheid vir landbou-uitvoerders skep.
Die organisasie Saai sê familieboere moet ’n belangrike geleentheid kry met die reëling wat geld tussen Suid-Afrika en China, maar die reëls en regulasies daarvan moet eers aan familieboere bevestig word.
Bloubessieboere ervaar toenemende mededinging uit Zimbabwe wat aangevuur word deur goedkoper en meer produktiewe arbeid nadat xenofobiese veldtogte daartoe gelei het dat talle ervare plaaswerkers na Zimbabwe teruggekeer het.
Die potensiële geleentheid moet nie bloot aan die hand van opspraakwekkende marktoegangsaankondigings beoordeel word nie, maar ook volgens die mate waarin boere aan die toepaslike vereistes vir naspeurbaarheidsgehalte, verpakking, koueketting en logistieke kan voldoen.

China is 'n belangrike mark vir bloubessies en die uitvoer kan baie vir familieboere beteken. Foto: Medical News Today
Theo de Jager, Saai-direksievoorsitter, sê China is ’n belangrike mark vir bloubessies; nultarief-toegang kan ’n noodsaaklike hupstoot aan Suid-Afrikaanse bloubessie-uitvoer bied.
Uitgebreide toegang tot China kan uitvoergroei ondersteun en tot ekonomiese aktiwiteit in landelike gebiede bydra, mits kleiner en familiebeheerde produsente nie uitgesluit word nie. Uitsluiting gebeur dikwels weens voldoeningskoste, infrastruktuurbeperkings, gekonsentreerde kopersmag en beperkte toegang tot betroubare uitvoerkanale.

Saai ondersteun 'n gebalanseerde benadering tot die uitvoer van bloubessies. Foto: Healthline
’n Gebalanseerde benadering tot die uitvoer van bloubessies word deur Saai ondersteun. Diversifisering kan afhanklikheid van ’n beperkte aantal markte verminder, terwyl verantwoordelike beplanning nodig is om markkonsentrasie, produksierisiko en die moontlike uitwerking van veranderende internasionale handelsomstandighede bestuur word.
“Saai sal betrokkenheid ondersteun sodra die toepaslike owerhede en bedryfsorgaisasies die bepalings van die marktoegang en die waarskynlike impak daarvan op die hele bloubessie-waardeketting bevestig het.”
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

