Agriculture
Brics moet handel laat werk─── 10:35 Mon, 21 Sep 2026
Brics moet meer tasbare handelsvoordele vir Suid-Afrikaanse landbou oplewer.
China neem in 2027 die voorsitterskap van die groep oor en het reeds aangedui dat handel ’n belangrike deel van sy agenda sal wees. Dit kan die weg baan vir Suid-Afrika wanneer die land in 2028 weer die voorsitterskap oorneem.
Wandile Sihlobo, Landbousakekamer-hoofekonoom, sê Suid-Afrikaanse landbou en landboubesighede se belangstelling in Brics was nog altyd sterk gekoppel aan die moontlikheid om uitvoermarkte uit te brei.
Ander sake, waaronder klimaatslim landbou, vooruitgang met saadteling en groter kunsmishandel, is ook belangrik. Sihlobo meen baie van dié gesprekke het egter hoofsaaklik by kennisdeling gebly sonder ’n duidelike meganisme om tegniese kundigheid na lande met laer landbouproduktiwiteit oor te dra.

Wandile Sihlobo. Foto: Facebook
Hy sê die Brics Business Council bied sakegemeenskappe ’n erkende forum om hul idees aan politieke leiers voor te lê, maar dit is steeds onduidelik hoeveel invloed dié aanbevelings op beleid en programme binne die groep gehad het.
Sihlobo meen nasionale afdelings van die Business Council behoort daarom nie net voor die jaarlikse Brics-beraad aanbevelings in te dien nie. Hulle moet ook deur die jaar met hul eie regerings skakel om prioriteite te verfyn en steun daarvoor te bou.
China se benadering tot handel wys volgens hom reeds wat moontlik is. Die China-Africa Economic Partnership Agreement het tariewe op verskeie produkte uit Afrika tot nul verlaag.
Met sommige landbouprodukte is daar egter steeds fitosanitêre hindernisse, wat beteken dat laer tariewe alleen nie noodwendig werklike marktoegang verseker nie.
Dié struikelblokke moet ook uit die weg geruim word voordat Afrika die volle ekonomiese voordeel uit die ooreenkoms kan trek, sê Sihlobo. “Brics het potensiaal, maar optrede wat verder as groot toesprake strek, is noodsaaklik vir die groep se ekonomiese vooruitgang.”
China se optrede volgende jaar kan daarom ’n belangrike grondslag lê. Suid-Afrika kan in 2028 daarop voortbou en probeer verseker dat Brics-samewerking toenemend in groter handel, investering en tasbare ekonomiese voordele vir lidlande weerspieël word.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

