Agriculture
Voedselsekerheid begin by winsgewende boere─── 13:20 Mon, 21 Sep 2026
Suid-Afrika sal die omstandighede waarin boere produseer, moet beskerm as voedselsekerheid oor die lang termyn volhoubaar moet bly.
Die verbruiker bepaal uiteindelik die mark, maar elke produk op ’n winkelrak begin by ’n produsent wat die finansiële en produksierisiko eerste moet dra. Die ekonomiese betekenis van landbou strek veel verder as primêre produksie.
Verwerking, verpakking, vervoer, bemarking en kleinhandel voeg groot waarde ná die plaashek by, maar geen deel van dié waardeketting kan funksioneer sonder die aanvanklike produk wat op die plaas gelewer word nie, sê Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder.
Produsente werk terselfdertyd binne ’n omgewing waar weer, pryse, insetkoste, siektes en veranderende markte inkomste vinnig kan beïnvloed. Boere moet ook toenemend self help om tekortkominge in paaie, water, elektrisiteit en veiligheid te oorbrug om produkte betyds en winsgewend by markte te kry.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. Foto: Facebook/TLU SA
’n Beleidsomgewing wat vertroue skep, is daarom noodsaaklik vir verdere investering en produksie. Beleggers, entrepreneurs en produsente moet redelike sekerheid hê oor spelreëls, eiendomsreg en die opbrengs op produktiewe kapitaal voordat hulle bereid sal wees om nuwe geld en hulpbronne in die ekonomie te plaas, meen Van Zyl.
Beleid wat onsekerheid oor eiendomsreg verhoog of produksierisiko verder opstoot, kan nie los van die gevolge vir investering beskou word nie. “Suid-Afrika het beleid nodig wat produksie uitbrei, nie beleid wat die risiko van produksie verder verhoog nie,” sê Van Zyl.
Die druk raak uiteindelik meer as boere alleen. Elke produktiewe plaas dra by tot voedselvoorsiening, werkgeleenthede, belastinginkomste, uitvoere en plaaslike ekonomiese aktiwiteit, terwyl ’n kleiner groep inkomsteverdieners ’n groot deel van die staat se finansiële basis help dra.
Die jongste SAID-belastingstatistieke toon dat 7,71 miljoen individue vir die 2024-belastingjaar geassesseer is. Dit verteenwoordig net een deel van die belastingbasis, maar beklemtoon volgens Van Zyl hoe belangrik ’n produktiewe ekonomie en volhoubare inkomsteskepping vir die funksionering van die staat bly.
Die land moet daarom sterker steun op ’n boukultuur waarin mense verantwoordelikheid aanvaar, innoveer, werk en produseer. Dieselfde beginsel geld binne landbou, waar produsente ingelig en betrokke moet bly by beleidsdebatte wat hul toekomstige vermoë om te produseer en winsgewend te boer kan beïnvloed.
“Landbou moet leef sodat die land kan leef,” sê Van Zyl. Die kernvraag is volgens hom nie net wie vandag kos op Suid-Afrikaanse tafels sit nie, maar watter beleid- en beleggingsbesluite nou nodig is om te verseker dat boere oor 20 jaar steeds kan produseer.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

