On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Funksionele beeste kan winsgewendheid bepaal

───   05:00 Tue, 22 Sep 2026

Funksionele beeste kan winsgewendheid bepaal | News Article
Beeste moet hulle binne ’n kommersiële stelsel kan handhaaf. Foto: Facebook

Beestelers sal op vanjaar se Nampo Alfa praktiese riglyne kry oor hoe funksionaliteit, aanpasbaarheid en vrugbaarheid winsgewende beesboerdery kan ondersteun.

Die landbougeleentheid vind van 2 tot 4 Oktober by Bothaville plaas. Een van die slypskole is toegespits op die funksionaliteit van beeste in winsgewende boerdery, en Drakensberg-stoetteler Pikkie Uys gaan praat uit sy eie ervaring oor seleksie, teelbesluite en produksie.

Funksionaliteit beteken vir Uys dat ’n dier hom binne ’n kommersiële stelsel moet kan handhaaf. ’n Koei moet maklik kalf, jaarliks ’n lewenskragtige kalf speen en sonder ernstige funksionele gebreke produseer. Die dier moet uiteindelik kilogramme oor die skaal lewer voordat genetiese waarde ’n premie regverdig, sê Uys.

Aanpasbaarheid is volgens hom selfs belangriker as vrugbaarheid, omdat ’n dier eers in sy omgewing moet kan floreer voordat reproduksie volhoubaar kan wees. Telers moet daarom let op die omstandighede waaruit diere kom en verkieslik genetika aankoop uit ’n soortgelyke of selfs strawwer produksie-omgewing.

Pikkie Uys, Drakensberg-stoetteler, is betrokke by een van die slypskole. Foto: Facebook

Vrugbaarheid bly egter die belangrikste praktiese maatstaf van aanpasbaarheid. ’n Koei wat jaarliks dragtig raak, self kalf en ’n gesonde kalf speen, wys volgens Uys dat sy binne haar omgewing funksioneer. Groei bly belangrik in die vleisbedryf, maar moet relatief tot die dier se raam en grootte beoordeel word.

Hy waarsku ook teen ’n beheptheid met maksimum prestasie. Telers hoef nie voortdurend die grootste groei, meeste melk of uiterste produksiesyfers na te jaag nie. Swak presteerders behoort eerder uitgeskakel te word, terwyl gemiddelde, gebalanseerde diere dikwels ekonomies meer volhoubaar is. Vrugbaarheid is volgens hom die uitsondering waarop telers voortdurend streng moet selekteer.

Fenotipe bly ’n waardevolle seleksiehulpmiddel, maar diere kan net sinvol vergelyk word wanneer hulle dieselfde voeding, omgewing en bestuursgeskiedenis gehad het. ’n Mooi dier is dus nie noodwendig geneties beter nie. Teelbesluite behoort eerder op bewese uitkomste as slegs voorspellings, stambome of teelwaardes te berus.

Langlewendheid behoort ook swaarder in seleksiebesluite te weeg. ’n Volwasse koei wat oor baie jare gereeld dragtig raak, self kalf en goeie kalwers speen, bied minder risiko as ’n jong vers wat haar reproduksievermoë nog moet bewys. Hy het self koeie van 15 jaar en ouer in produksie gehad.

Die boodskap wat Uys by Nampo Alfa wil oordra, is dat teling nie onnodig ingewikkeld gemaak moet word nie. Boere en telers het reeds goeie diere in hul kuddes; die uitdaging is om hulle reg te identifiseer deur visuele beoordeling saam met produksie- en reproduksiesyfers te gebruik.

“Hou dit eenvoudig,” is die kern van sy benadering. Telers wat minder op uiterstes en meer op aanpasbaarheid, vrugbaarheid, funksionaliteit en langlewendheid konsentreer, kan seleksiebesluite neem wat beter by hul eie omgewing pas en uiteindelik die kans op volhoubare winsgewendheid verbeter.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.