Agriculture
Saai vra ondersoek na OBP en entstofpryse─── 14:42 Mon, 21 Sep 2026
Saai vra ’n deeglike ondersoek na Onderstepoort- Biologiese Produkte (OBP) se rol in die prysbepaling, aankoop en vervaardiging van entstowwe.
Die organisasie wil ook weet watter uitwerking OBP se optrede op veeboere en Suid-Afrika se vermoë gehad het om bek-en-klouseer (BKS) te bekamp. Die ondersoek moet ook kyk na sowat ’n halfmiljard rand wat by OBP verdwyn het.
Vrae bestaan verder oor die instelling se vermoë om entstowwe te vervaardig, in te voer, te hanteer, te berg en te versprei, asook moontlike onreëlmatige winste met die verspreiding van BKS-entstowwe aan ander staatsinstellings.
African Farming het berig oor die voorkomende skorsing van OBP se waarnemende uitvoerende hoof, dr. Jacob Modumo. Sy skorsing hou verband met ’n ondersoek na beweerde ongerymdhede met BKS-entstofpryse, maar Saai beklemtoon dit is nie ’n skuldigbevinding nie.

Die geskorste dr. Jacob Madumo. Foto: ProAgri Media
Inligting wat aan die parlement voorgelê is, wys ingevoerde entstowwe het in die laaste kwartaal van die 2025/26-boekjaar sowat 94% van OBP se plaaslike verkope uitgemaak. Vrae bestaan ook oor verskille tussen pryse wat glo aan minstens een provinsiale regering gehef is en pryse deur private kanale.
Saai wil hê dié pryse en die koste van hantering, verifiëring, vervoer en verspreiding moet onafhanklik nagegaan word. Boere en die publiek behoort te weet of entstowwe doeltreffend en teen ’n billike prys verskaf is, en of openbare geld behoorlik beskerm is.
Die organisasie is ook bekommerd oor OBP se langtermynvermoë om genoeg entstowwe te vervaardig. ’n Ondersoek moet volgens Saai vasstel waarvoor geld vir die moderniseringsprojek beskikbaar gestel is, wat eindelik gelewer is, waar vertragings ontstaan het en of regstellende of regstappe nodig is.

’n Foto op OBP se webblad. Foto: OBP
Saai meen veeboere kan nie aanhou om die ekonomiese skade van siekte-uitbrekings te dra terwyl onsekerheid oor entstofvoorraad, pryse en die gereedheid van belangrike dieregesondheidsinstellings voortduur nie. Wanneer ingevoerde entstowwe nodig is, moet die aankoopproses deursigtig wees en waarde vir geld bied.
Suid-Afrika het terselfdertyd ’n geloofwaardige plan nodig om plaaslike entstofproduksie te behou en uit te bou.
OBP is volgens Saai nie meer die instelling waarvoor dit oorspronklik geskep is nie en het boere in die steek gelaat, sê dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter.
De Jager meen dit kan baie kos om OBP weer behoorlik op die been te bring. Die risiko bly volgens hom groot dat politieke inmenging, wanbestuur en plundering die instelling weer kan ondermyn. Hy sê Saai se standpunt is daar omdat OBP geprivatiseer moet word.
Saai steun behoorlike regsprosesse, maar meen aanspreeklikheid moet volg indien ondersoeke wys openbare geld is misbruik, boere is onbillik belas of Suid-Afrika se vermoë om dieresiektes te bekamp is verswak.
Die organisasie wil hê die finale bevindings en enige regstellende stappe moet openbaar gemaak word.
OFM Agri cvs sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

