On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Diere keer terug na Nampo Alfa

───   05:00 Wed, 23 Sep 2026

Diere keer terug na Nampo Alfa | News Article
Lewende hawe keer terug na Nampo Alfa van 2 tot 4 Oktober, te midde van streng biosekerheidsmaatreëls weens die bek-en-klouseer-uitbreking. Foto: Facebook/Nampo

Lewende hawe keer vanjaar volwaardig terug na Nampo Alfa by Bothaville.

Die geleentheid vind van 2 tot 4 Oktober plaas, en streng biosekerheidsmaatreëls sal geld om diere en kuddes te beskerm. Bek-en-klouseer bly egter ’n werklikheid en plaas hernude verantwoordelikheid op uitstallers en besoekers.

Nampo Alfa-organiseerder Albert Loubser sê die terugkeer van diere beteken nie dat die veebedryf bloot na die ou manier van doen kan terugkeer nie. Die bedryf moet volgens hom aanvaar dat strenger biosekerheid deel van die nuwe werklikheid geword het.

“Ek dink ons moet vir mekaar sê en aanvaar dat dinge nooit weer dieselfde gaan wees soos wat dit was voor bek-en-klou nie.”

Albert Loubser. Skermgreep: Facebook

Nampo Alfa pas reeds jare ’n biosekerheidsprotokol toe wat saam met ander landbougeleenthede ontwikkel is. Loubser sê dr. Danie Odendaal het die protokol opgestel om die veilige vertoon van diere by lewendehawegeleenthede moontlik te maak.

Die beskikbaarheid van entstof maak vanjaar ’n belangrike verskil. Diere moet nie net ingeënt wees nie, maar die enting moet vroeg genoeg plaasvind dat hulle volle immuniteit bereik voordat hulle Nampopark binnekom. “Ons vat nie kanse nie en ons vat dit ook nie ligtelik op nie,” sê Loubser.

Benewens die terugkeer van lewende hawe wag verskeie gevestigde kompetisies op besoekers. Die Old Mutual Wealth nasionale interraskampioenskap bring gekwalifiseerde diere van verskillende rasse teen mekaar te staan, terwyl die Mega Os en nasionale Farm Skills-kampioenskap weer deel van die program is.

’n Nuwe toevoeging is die BKB Supertien-bokskou. Elke teler mag slegs tien diere inskryf en die formaat bestaan uit tien klasse. Volgens Loubser bied dit telers ’n geleentheid om hul stoete aan ’n breër gehoor bekend te stel.

Besoekers kan ook meer leer oor funksionele kudde-evaluasie. Die program wys hoe kommersiële kuddes volgens onder meer aanpassing en vrugbaarheid beoordeel kan word om toekomstige vervangingsdiere te kies.

Nampo Alfa bied ook ruimte vir ontspanning. ’n Afrikaanse musiekfees word Saterdagaand aangebied, gevolg deur ’n biduur Sondagoggend vir die nuwe teel- en plantseisoen. ’n Christelike musiekfees vorm deel van die Sondagprogram.

“Ek dink daar is regtig genoeg rede om die eerste naweek in Oktober die moeite te doen om by ons aan te sluit,” sê Loubser.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.