On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Privaat sektor gaan BKS-entstof vervaardig

───   11:31 Tue, 22 Sep 2026

Privaat sektor gaan BKS-entstof vervaardig | News Article
Willie Aucamp vroeër vanjaar tydens ’n Boran-veiling by Bethal. Foto: Facebook

Die private sektor gaan help om Suid-Afrika se plaaslike bek-en-klouseer-entstof op groter skaal te vervaardig.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) het ingestem dat kwalifiserende plaaslike of buitelandse maatskappye sy intellektuele eiendom vir die entstof onder voorwaardelike lisensie-ooreenkomste kan gebruik. Die stap is daarop gemik om huidige vervaardigingsbeperkings te oorkom en die beskikbaarheid van die plaaslik ontwikkelde entstof te verhoog.

Landbouminister Willie Aucamp het die voorstel aan die LNR voorgelê en die raad het dit Maandag (21/9) eenparig aanvaar. Die LNR-entstof bied volgens die departement doeltreffende beskerming teen Suid-Afrika se plaaslike bek-en-klouseerstamme en vereis slegs een toediening per jaar, maar kan tans nie op die nodige skaal vervaardig word nie.

“Die vennootskap met die private sektor is ’n beslissende deurbraak om Suid-Afrika se veebedryf en nasionale biosekerheid te beskerm,” sê Aucamp. Hy meen groter vervaardigingsvermoë behoort ook voedselvoorsieningskettings te versterk terwyl die land voortgaan om die huidige bek-en-klouseeruitbreking te bekamp.

Die Landbounavorsingsraad se stalletjie by die onlangs Nampo Kaap. Foto: Facebook

Die besluit beteken nie dat die LNR sy eie produksievermoë gaan afskaal nie. Die raad sal terselfdertyd voortgaan om interne vervaardigingskapasiteit uit te brei, terwyl derde partye bykomende volumes vervaardig. Enige inkomste uit die lisensie-ooreenkomste sal uitsluitlik gebruik word om die LNR se eie bek-en-klouseer-entstofkapasiteit verder te vergroot.

Die groter doel is om meer plaaslik geskikte entstof beskikbaar te kry sonder om die LNR as vervaardiger te vervang. Private vervaardiging moet bykomende kapasiteit skep, terwyl die raad sy eie produksievermoë uitbrei. Lisensie-inkomste sal daarin teruggeploeg word.

Volgens die verklaring bly die plaaslike entstof ’n belangrike deel van die beheerstrategie omdat dit teen plaaslike virusstamme ontwikkel is. Groter produksie sal afhang van die nuwe lisensie-ooreenkomste en kwalifiserende vervaardigers se vermoë om op skaal te produseer.


Aucamp sê produsente en ander rolspelers het vinniger optrede teen die siekte gevra. “Vir die eerste keer gaan ons die private sektor toelaat om die LNR se intellektuele eiendom te gebruik om die beskikbaarheid van die entstof te verhoog.” Hy waarsku egter dat die besluit nie oornag tot groter produksie sal oorgaan nie.

Die volgende stap is om die lisensiërings- en vervaardigingsproses sonder onnodige vertraging in werking te stel. 

Die LNR, private vervaardigers en die departement sal dus nou die praktiese vereistes moet afhandel voordat groter hoeveelhede van die plaaslike entstof beskikbaar kan raak.

’n Verdere wetenskaplike stap volg in Oktober wanneer die LNR verteenwoordigende bek-en-klouseervirusmonsters uit Suid-Afrika na die Pirbright-instituut in Brittanje stuur. 

Dit sal die tweede ronde entstofpassing behels om die geskiktheid van beskikbare plaaslike en ingevoerde entstowwe teen virusse wat tans in die land sirkuleer, onafhanklik te beoordeel.

Die departement beplan intussen om saam met kommoditeitsorganisasies, provinsiale veeartsenydienste, georganiseerde landbou en ander rolspelers aan die land se bek-en-klouseerbeheerprogram te werk. Aucamp sê alle partye het hulle verbind om die nuwe vervaardigingsbesluit so vinnig moontlik uit te voer.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.