Agriculture
Winsgewendheid van veeboere onder die loep by Nampo Alfa─── 05:00 Wed, 30 Sep 2026
Nampo Alfa plaas dié naweek die winsgewendheid van Suid-Afrikaanse boere in die soeklig wanneer produsente, landbouorganisasies en besluitnemers by Bothaville saamtrek.
Een van die hoogtepunte van Vrydag (2/10) tot Sondag is ’n nasionale gesprek op die eerste dag van die geleentheid in die Fanie Ferreira-saal. Die tema, Profitability amid Crisis, plaas onder meer bek-en-klouseer, voedselproduksie en die druk op produsente se winsgewendheid op die agenda.
Die gesprek kom te midde van toenemende druk op veral veeboere om volhoubaar te produseer terwyl produksiekoste, marktoegang en ander uitdagings hul winsmarges knou. Charl Saunderson, Noord-Kaapse dorperstoetteler en openbare spreker, meen die gesprek behoort veral daarop gerig te wees om praktiese oplossings vir produsente te vind.
“Dit gaan daaroor dat ons moet kyk om goed in plek te kry om te sorg dat veeboere volhoubaar winsgewend kan wees. Want dis die enigste manier wat ons voedselsekerheid ten opsigte van rooivleis gaan kan waarborg.”

Charl Saunderson, Noord-Kaapse dorperstoetteler, is ook betrokke by die gesprekke. Foto: OFM
Soos die getal boere afneem, sal die druk op oorblywende produsente toeneem om meer te produseer, sê Saunderson. Groter produksie beteken egter nie noodwendig groter wins nie. Hy verwys onder meer na die groot mielie-oes vanjaar wat volgens hom in baie gevalle teen ’n verlies geproduseer is.
“Ons sal moet kyk hoe ons geleenthede kan ontsluit, waar die winste wegsyfer en wat die redes daarvoor is. Ons moet goed in plek sit om te sorg dat boere winsgewend, volhoubaar winsgewend, kan boer. Anders is voedselsekerheid uit die aard van die saak in gedrang.”
Uitvoer- en markgeleenthede behoort volgens hom ’n belangrike deel van die gesprek te vorm. Minder produksie plaas opwaartse druk op voedselpryse, terwyl groter uitvoergeleenthede nuwe inkomste en werksgeleenthede kan ontsluit.
“Ons sal uitvoer moet bykry. As ons produksie verloor, raak kos duurder. Met uitvoer kan ons meer werksgeleenthede skep en die handelsbalans bevoordeel. Maar ons moet dit winsgewend kan doen.”
Die waarde van Vrydag se gesprek lê juis daarin dat produsente self kan verduidelik waar die knelpunte in die stelsel voorkom, meen Saunderson. “Dis die geleentheid waar ons na die boere moet luister en sê: Dit is die rede dat my boeke nie klop nie. Ons moet probeer om daardie gate toe te stop sodat boere winsgewend kan boer. Ons volgende bord kos is hiervan afhanklik.”
Hy moedig produsente daarom aan om die gesprek by te woon en hul ervaring met landbou- en produsente-organisasies te deel. “Kom ons kyk of ons daardie saal vol boere kan kry wat ’n sinvolle bydrae kan maak om hierdie saak te beredder.”
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

