On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Hoër hoenderheffings kan kosdruk op verbruikers verhoog

───   11:28 Mon, 12 Oct 2026

Hoër hoenderheffings kan kosdruk op verbruikers verhoog | News Article
Hoender maak sowat 60% van alle vleisverbruik in Suid-Afrika uit. Foto: Pexels

Verbruikers kan verder noustrop trek as bestaande teenstortingsheffings op bevrore hoender uit Europa vir nog vyf jaar verleng en aansienlik verhoog word.

Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) vra die Internasionale Handelsadministrasiekommissie moet die huidige heffings op been-in- bevrore hoender uit Duitsland, Nederland en die Verenigde Koninkryk laat verval wanneer die sogenaamde sunset review afgehandel word.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sappa) wil hê die heffings moet vir nog vyf jaar behou en in sommige gevalle aansienlik verhoog word. Die maatreëls is aanvanklik in 2015/16 ingestel en in 2021 verleng. As Sappa se aansoek slaag, kan die beskerming eindelik langer as 15 jaar geld.

Amie sê die hersiening moet op huidige bewyse berus en nie as ’n outomatiese verlenging van bestaande beskerming behandel word nie. Die organisasie voer aan dat aangetoon moet word dat die beëindiging van die heffings waarskynlik weer tot storting én wesenlike skade aan plaaslike produsente sal lei.

Hoër pryse vir hoender raak die armste huishoudings in Suid-Afrika. Foto: Pexels

Hoender maak sowat 60% van alle vleisverbruik in Suid-Afrika uit. Navorsing van die Reserwebank, waarna Amie verwys, het bevind dat tariewe, teenstortingsheffings en beskermingsmaatreëls die kleinhandelprys van bevrore hoender tussen 2012 en 2021 met sowat 16,2% bo die vlak sonder dié maatreëls verhoog het.

Dieselfde navorsing het bevind die uitwerking raak armer huishoudings die swaarste. Hoër pryse vir onder meer bevrore hoender, aartappelskyfies en pasta het die welstand van die armste huishoudings volgens die navorsing met die ekwivalent van sowat 2,1% van hul voedselbesteding verminder.

Paul Matthew, uitvoerende hoof van Amie, sê die debat behoort nie as ’n keuse tussen plaaslike produksie en invoer beskou te word nie. Suid-Afrika het ’n sterk plaaslike pluimveebedryf nodig, maar ook verantwoordelike invoer om aanbod, voedselsekerheid en verbruikerskeuse te ondersteun.

Amie bevraagteken ook Sappa se berekeninge van nuwe stortingsmarges van 425,64% vir Duitsland, 32,48% vir Nederland en 61,84% vir die Verenigde Koninkryk. Die vereniging sê sommige van die data maak nie ’n billike vergelyking moontlik nie en dat die Duitse berekening deels op uitvoer na Ghana gegrond is.

Amie wys op die verbeterde prestasie van plaaslike pluimveeprodusente. Rainbow Chicken se verdienste het in die ses maande tot Desember 2025 meer as verdubbel, terwyl Astral se bedryfswins in die ses maande tot Maart 2026 met 348% tot R1,2 miljard gestyg het.

Matthew sê die vraag is nou of die bewyse voldoende is om verdere beskerming te regverdig, veral teen die agtergrond van hoër voedselkoste. Amie wil hê Itac moet bevind die vereiste drempel is nie bereik nie en die bestaande heffings laat verval.

OFM Agri cvs dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.