On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landboumeesterplan onder vergrootglas oor pad na groei

───   11:49 Mon, 12 Oct 2026

Landboumeesterplan onder vergrootglas oor pad na groei | News Article
Saai meen werkgewers- en wildbedryfsorganisasies het onvoldoende inspraak gekry in die AAMP. Foto: Pexels

Suid-Afrika se landbousektor het reeds ’n plan om groei te ontsluit, maar rolspelers verskil oor hoe die Landbou-en-landbouverwerkingsmeesterplan verder gevoer moet word.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, meen die plan moet herleef eerder as vervang word. Die plan wat in Mei 2022 bekendgestel is, identifiseer reeds die belangrikste struikelblokke vir groei, waaronder uitvoermarkte, hawevertragings, grondhervorming, diere- en plantgesondheid, misdaad en toegang tot nuwe saadkultivars.

Hy erken die plan is nooit volledig uitgevoer nie en belanghebbendes het gevolglik moed verloor. Dit weerspieël eerder twyfel oor die betrokkenes se verbintenis tot uitvoering as ’n gebrek in die plan self. ’n Nuwe proses kan jare neem en eindelik tot dieselfde gevolgtrekkings lei.

Die komende 2026/27-seisoen maak uitvoering volgens hom belangriker. Bek-en-klouseer en ander dieregesondheidsprobleme het reeds baie aandag opgeëis en ’n moontlike El Niño-droogte kan die komende jaar oorheers. Sihlobo waarsku teen die gebruik van dié krisisse as rede om langtermynhervormings weer uit te stel.

Dieregesondheid is een van die struikelblokke van groei. Foto: Pexels

TLU SA stem saam oor die behoefte aan groei, investering en marktoegang, maar bevraagteken die ekonomiese grondslag van die meesterplan. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, wil weet of winsgewendheid, produktiwiteit, volhoubaarheid en doeltreffendheid eindelik die maatstawwe sal wees, of transformasiedoelwitte voorkeur sal geniet.

Die organisasie het reeds tydens die opstel van die plan gevra vir ’n duidelike omskrywing van “transformasie”. Volgens TLU SA moet nuwe toetreders ondersteuning en ’n billike geleentheid kry om volhoubare kommersiële produsente te word, maar ekonomiese volhoubaarheid behoort die maatstaf van sukses te bly.

Hy sê die plan se aanpasbaarheid skep ruimte om uitstaande kwessies uit te klaar voordat uitvoering versnel word. TLU SA het reeds met die minister kontak gemaak en wil deur verdere gesprek help om die AAMP op ’n sterker ekonomiese grondslag te plaas.

Saai voer aan die AAMP geniet onvoldoende steun onder primêre produsente. Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter, sê organisasies wat die plan in 2022 gekritiseer het, is nie almal by ’n onlangse uitvoerende oorsigvergadering betrek nie, ondanks vorige formele besware.

Saai bevraagteken ook wie namens boere aan die AAMP deelneem. Die organisasie meen werkgewers- en wildbedryfsorganisasies het onvoldoende inspraak gekry en winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid kry steeds nie genoeg gewig in die bestaande teks nie.

Die kernverskil is dus duidelik: Sihlobo wil die bestaande plan nou beter uitvoer, terwyl TLU SA en Saai eers groter duidelikheid oor die ekonomiese grondslag en verteenwoordiging daarvan wil hê.

OFM Agri dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.