Agriculture
TLU SA steun appèl oor uitstaande watergebruikheffings─── 09:10 Tue, 13 Oct 2026
Boere en ander waterverbruikers kan nog lank onseker wees oor hoe ver terug die staat uitstaande watergebruikheffings mag verhaal nadat ’n hof nie ’n finale antwoord oor verjaring gegee het nie.
TLU SA steun Sakeliga se besluit om teen ’n uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria te appelleer. Die saak handel oor uitstaande watergebruikheffings en die vraag of dié skuld aan die gewone driejaar-verjaringstydperk ingevolge die Verjaringswet onderhewig is.
Die aansoekers het die hof gevra om duidelikheid te gee oor die tydperk waarbinne die departement van water en sanitasie uitstaande bedrae mag verhaal. Die hof het egter nie ’n verklarende bevel oor dié vraag toegestaan nie.
Volgens die uitspraak kom verjaring behoorlik ter sprake wanneer ’n eis ingestel word en die betrokke watergebruiker verjaring as verweer opper. TLU SA meen dié benadering laat ’n belangrike praktiese vraag vir watergebruikers steeds onbeantwoord.

Bennie van Zyl. Foto: Facebook
Boere moet vooraf met sekerheid kan bepaal waarvoor hulle aanspreeklik gehou word, hoe bedrae bereken is en hoe ver terug die staat daarop geregtig is om betaling te eis, sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder.
’n Deel van die uitspraak wat TLU SA wel verwelkom, is die bevel dat die departement binne 60 kalenderdae volledige state en alle tersaaklike fakture aan die betrokke aansoekers moet verskaf.
Volgens die organisasie is dié inligting noodsaaklik sodat watergebruikers self die korrektheid van eise kan nagaan. Hulle moet kan sien waarvoor ’n bedrag gehef is, oor watter tydperk dit strek en hoe die totaal saamgestel is.
Van Zyl sê van landbouers kan nie verwag word om ou bedrae bloot te aanvaar sonder voldoende besonderhede en dokumentasie nie. Wanneer die staat betaling eis, moet die grondslag van die eis duidelik uiteengesit kan word.
TLU SA se regsadvies ná die uitspraak dui volgens die organisasie daarop dat daar gronde bestaan om die hof se benadering tot verjaring op appèl te laat toets. Die geskil gaan hoofsaaklik oor die toepassing en vertolking van die reg, eerder as oor die feite van die individuele rekeninge.
Sakeliga sal die appèl lei, terwyl TLU SA die verdere regsproses ondersteun. Die organisasie meen groter duidelikheid is nodig omdat die uitkoms nie net huidige rekeninge raak nie, maar ook landbouers se finansiële beplanning en die wyse waarop watergebruikheffings in die toekoms geadministreer word.
TLU SA se standpunt is nie dat regmatige rekeninge nie betaal moet word nie, beklemtoon Van Zyl. Bedrae wat geëis word, moet egter korrek bereken, behoorlik gemotiveer en binne die toepaslike regsraamwerk verhaal word.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

