On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Plantvoornemens sal eerste duidelike aanduiding gee van nuwe seisoen

───   12:44 Tue, 13 Oct 2026

Plantvoornemens sal eerste duidelike aanduiding gee van nuwe seisoen | News Article
Papnat lande in Desember in die Wes-Vrystaat. Foto: Facebook/Watertafel

Die eerste duidelike aanduiding van hoe Suid-Afrikaanse produsente op El Niño, hoër insetkoste en onsekerheid oor die nuwe somerreënseisoen reageer, word op 27 Oktober verwag wanneer die Oesskattingskomitee sy verslag oor plantvoornemens bekend maak.

Die verslag sal aandui hoeveel produsente beplan om onder meer mielies, sonneblom, sojabone, grondbone, sorghum en droëbone te plant. Dit sal ’n belangrike vroeë maatstaf wees van produsente se vertroue en hul bereidwilligheid om die nuwe seisoen se risiko’s te aanvaar.

Suid-Afrikaanse produsente plant gewoonlik sowat 4,5 miljoen ha-somergewasse. In die 2025/26-seisoen het dié oppervlakte tot 4,6 miljoen ha toegeneem nadat gunstige reënval en gewaspryse produsente aangemoedig het om meer aan te plant. Sowat 2,7 miljoen hektaar hiervan was mielies en 1,2 miljoen ha sojabone.

Die Landbousakekamer van Suid-Afrika verwag nie in hierdie stadium ’n groot afname in die nuwe seisoen se aanplantings nie. 

Wandile Sihlobo. Foto: Facebook

Goeie grondvog ná die vorige seisoen en onlangse reën kan steeds behoorlike aanplantings ondersteun, hoewel produsente ook die moontlikheid van droogte en duurder kunsmis en brandstof in hul besluite moet verreken.

Agbiz-hoofekonoom Wandile Sihlobo meen die seisoen sal uitdagend wees, maar die gunstige grondvog waarmee produsente begin, kan steeds ordentlike aanplantings aanmoedig. Volgens hom sal die Oesskattingskomitee se verslag ’n beter aanduiding gee van hoe produsente dié risiko’s teen mekaar opweeg.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat El Niño reeds sterk is en in die komende maande verder kan versterk. Onder normale El Niño-toestande neem die kans op warmer en droër weer oor groot dele van die somerreëngebied toe, veral gedurende laat lente en die vroeë tot middel-somer.

Produsente behoort daarom nie bloot minder te plant nie, meen Sihlobo, maar waar nodig kortgroeiende kultivars te oorweeg.  Sulke gewasse kan beter vaar indien voldoende vog vroeg in die seisoen beskikbaar bly. Die tydsberekening van reën sal egter deurslaggewend wees vir die uiteindelike prestasie van verskeie somergewasse.

Die nuwe seisoen begin uit ’n betreklik sterk posisie. Die Oesskattingskomitee het einde September die 2025/26-somergrane- en oliesade-oes op 21,7 miljoen ton geraam, sowat 6% meer as die vorige seisoen. Rekordoeste is vir sommige gewasse, waaronder mielies en sojabone, aangeteken.

Dié groter binnelandse voorraad verminder volgens Agbiz die onmiddellike risiko van ’n skerp styging in voedselpryse. Die groter vraag is nou of produsente ondanks El Niño en duurder insette genoeg grond onder somergewasse sal hou om dié gunstige voorraadposisie deur 2027 te ondersteun.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.