Agriculture
Appèlhof: Staat kan nie vernietigde hoenders afmaak as waardeloos─── 09:37 Thu, 29 Oct 2026
Pluimveeboere kan voortaan op duideliker riglyne staatmaak wanneer hulle vergoeding eis vir hoenders wat ingevolge verpligte dieresiektebeheermaatreëls vernietig word.
Die appèlhof in Bloemfontein het Woensdag (28/10) beslis dat die staat die billike markwaarde van die diere vóór besmetting as vertrekpunt vir vergoeding moet gebruik. Die staat kan nie vernietigde hoenders bloot as waardeloos beskou nie, selfs wanneer hulle met voëlgriep besmet is of met besmette diere in aanraking was.
Hiermee het die appèlhof die regering se appèl teen ’n uitspraak van die hooggeregshof in die Wes-Kaap met koste van die hand gewys.
Aanleiding tot die hofsaak was ’n uitbreking van hoogs aansteeklike voëlgriep in Mei 2021 op een van George Moeras Boerdery se plase. ’n Staatsveearts het opdrag gegee dat besmette hoenders, sowel as dié wat met hulle in aanraking was, vernietig word en dat daarmee veilig weggedoen moes word.

’n Uitbreking van hoogs aansteeklike voëlgriep in Mei 2021 op een van George Moeras Boerdery se plase het aanleiding gegee tot die saak. Foto ter illustrasie: Facebook
Ná die opdrag het die boerdery groot getalle hoenders en eiers vernietig. Die onderneming moes ook die betrokke persele skoonmaak en ontsmet. Dit het aansienlike koste meegebring, waarna die boerdery ingevolge die Wet op Dieresiektes om vergoeding aansoek gedoen het.
Volgens die direkteur van dieregesondheid was geen vergoeding egter betaalbaar nie. Haar standpunt was dat voëlgriep uiters aansteeklik is, dat besmette hoenders waarskynlik sou vrek en dat die diere en eiers gevolglik geen handelswaarde gehad het nie. Die vergoeding is daarom op nul rand vasgestel.
Hierteen het die boerdery beswaar aangeteken. ’n Departementele paneel het die direkteur se besluit as onlogies en irrasioneel bestempel en gelas dat die eis heroorweeg word. Sy het egter weer tot die gevolgtrekking gekom dat die vernietigde hoenders en eiers waardeloos was.
Besluit tersyde gestel
Uiteindelik het die geskil voor die hooggeregshof gedien, wat die direkteur se besluit tersyde gestel het. Die direkteur en minister het hulle daarna tot die appèlhof gewend om die uitspraak te betwis.
In sy meerderheidsuitspraak bevind die appèlhof dat billike vergoeding op die markwaarde van gesonde, onbesmette diere gegrond moet wees. Die direkteur kan dus nie bloot besluit dat diere waardeloos is omdat hulle ten tyde van vernietiging besmet was of aan besmetting blootgestel is nie.
Verder beklemtoon die hof dat siektebeheermaatreëls die openbare belang dien deur die verspreiding van aansteeklike siektes te beperk. Die koste van sulke ingrypings behoort gevolglik nie noodwendig uitsluitlik deur die betrokke produsent gedra te word nie.
Dit beteken egter nie dat produsente outomaties die volle vervangingswaarde van vernietigde diere sal ontvang nie. Billike markwaarde vorm die vertrekpunt vir vergoeding, waarna ander toepaslike faktore ingevolge die wet in berekening gebring kan word.
Volgens die meerderheid het die direkteur ook nie behoorlik rekening gehou met die waarde van onbesmette hoenders wat met siek diere in aanraking was en gevolglik uit voorsorg vernietig moes word nie. Hierdie diere het steeds ekonomiese waarde gehad voordat die beheermaatreëls ingestel is.
Hoewel een regter van die meerderheid se regsvertolking en voorgestelde bevel verskil het, is die staatsappèl uiteindelik van die hand gewys. Die regering moet ook die regskoste van die appèl, insluitend dié van twee advokate, betaal.
Met hierdie uitspraak word die beginsels vir die bepaling van vergoeding aan produsente verder uitgeklaar. Dit kan toekomstige eise beïnvloed wanneer hoenders of ander diere op staatsbevel vernietig moet word om die verspreiding van aansteeklike siektes te voorkom.
OFM Nuus cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

