On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Agoa-uitsluiting plaas uitvoerders, poste onder druk

───   13:36 Tue, 03 Nov 2026

Agoa-uitsluiting plaas uitvoerders, poste onder druk | News Article
Sitrusboorde in die Wes-Kaap. Dié bedryf word sterk geraak deur die uitsluiting van Suid-Afrika uit Agoa. Foto: AgriSA

Waarnemers waarsku Suid-Afrika se beplande uitsluiting van die Amerikaanse handelsooreenkoms Agoa kan uitvoerders en werkgeleenthede benadeel, en dring aan op dringende optrede om die handelsverhouding te herstel.

Pres. Donald Trump van die VSA het die Kongres en Suid-Afrika Maandag (2/11) in kennis gestel van sy voorneme om die land vanaf 1 Januarie 2027 van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) uit te sluit. Rwanda word ook geraak.

TLU SA waarsku in ’n verklaring Dinsdag (3/11) die verlies aan voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark kan Suid-Afrikaanse produkte duurder en minder mededingend maak. Agoa bied kwalifiserende Afrika-produkte toegang sonder invoerbelasting, maar die voorgenome uitsluiting beteken nie dat handel met Amerika heeltemal beëindig word nie.

TLU SA-hoofbestuurder Bennie van Zyl sê die gevolge kan verder as landbou strek en ook die motorbedryf raak. Volgens hom bedreig die besluit gevestigde uitvoermarkte en ondernemings wat van Amerikaanse kliënte afhanklik is, terwyl werknemers eindelik die prys vir swakker handelsbetrekkinge kan betaal.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder. Foto: TLU SA 

Van Zyl kritiseer die ANC-regering se hantering van die verhouding met Washington en voer aan beleidskeuses en diplomatieke optrede het ’n belangrike handelsvennoot vervreem. Hy meen politieke en ideologiese oorwegings kry voorkeur bo ekonomiese groei, beleggingsvertroue en die belange van gewone Suid-Afrikaners.

Jamieson Greer, VSA-handelsverteenwoordiger, sê die besluit berus op ’n jaarlikse hersiening van Agoa-lidmaatskap. Washington noem handels- en beleggingshindernisse, korrupsie en kommer oor nasionale veiligheid en buitelandse beleid as redes waarom Suid-Afrika nie meer aan die program se vereistes voldoen nie.

Intussen sê die motorbedryfvakbond Misa die verlies aan Agoa is teleurstellend, maar dat die bedryf se grootste terugslag reeds vroeër gekom het. Amerika se invoertarief van 25% op voertuie en voertuigonderdele, wat in 2025 ingestel is, het volgens die vakbond Agoa se voordele grootliks uitgewis.

Syfers van die motorbedryforganisasie Naamsa toon Suid-Afrikaanse voertuiguitvoer na Amerika het tussen 2024 en 2025 met 83,2% van 24 682 tot 4 136 voertuie gedaal. Die motorbedryf het verlede jaar 23,8% van Suid-Afrika se vervaardigingsproduksie verteenwoordig, wat die belang van volhoubare uitvoermarkte beklemtoon.

Martlé Keyter van Misa. Foto: Autoforum

Martlé Keyter, Misa se uitvoerende bedryfshoof, sê werknemers leef reeds met die gevolge van die bestaande tariewe. Sy vra dat die regering ’n afsonderlike handelsooreenkoms vir die motorbedryf beding en terselfdertyd uitvoer na Europa, Afrika, China en ander handelsvennote uitbrei.

Volgens Misa kan die Agoa-verlies vir sekere produkte ’n bykomende tarief van sowat 3,4 persentasiepunte beteken. Die vakbond waarsku egter nuwe handelsooreenkomste moenie bloot tot groter invoer lei nie, maar moet plaaslike vervaardiging en werkgeleenthede ondersteun.

Flip Buys van die Solidariteit Beweging sluit by die kritiek op die regering aan. Hy beskuldig die ANC daarvan dat hy konfrontasie met Amerika bo diplomatieke samewerking verkies, en meen gewone Suid-Afrikaners sal die grootste skade ly indien ondernemings uitvoermarkte verloor.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, sê Suid-Afrika sal gesprekke met Washington voortsit en geraakte bedrywe ondersteun. Die regering wil gedurende die kennisgewingstydperk van 60 dae oplossings vind en die breër handelsverhouding met Amerika behou.

TLU SA en Misa stem saam dat Suid-Afrika sy uitvoermarkte dringend moet diversifiseer. TLU SA waarsku egter dat bestaande handelsverhoudinge nie oornag vervang kan word nie, terwyl Misa vra dat die regering terselfdertyd probeer om Agoa-voordele te herstel.

Die volgende twee maande bied Suid-Afrika die geleentheid om verdere onderhandelinge te voer voordat die uitsluiting in werking tree. Vir landbouprodusente, motorvervaardigers en hul werknemers sal die uitkoms bepaal watter Amerikaanse handelsvoordele behoue bly en hoe dringend nuwe uitvoergeleenthede ontwikkel moet word.

OFM Agri sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.