South Africa
SA se Mej. Rolstoel op pad na wêreldkompetisie─── 06:59 Fri, 21 Oct 2022
Ná 'n lang gewag en verskeie uitdagings het Tamelyn Bock, Mej. Rolstoel Suid-Afrika, uiteindelik Donderdagaand 20 Oktober 2022, vanaf Kaapstad se internasionale lughawe via Nederland na Mexiko vertrek.
Haar verloofde, Eddie Balie, wat ook haar assistent is, vergesel haar na die Mej. Rolstoel-wêreldkompetisie waar sy Suid-Afrika op Saterdag 29 Oktober 2022 in die Mexikaanse kusstad Rosarita gaan verteenwoordig.
Die 27 deelnemers gaan in die week voor die kompetisie vir die groot aand voorberei en oefen sodat die verrigtinge glad verloop.
Bock het die afgelope paar maande gesukkel om genoeg geld bymekaar te kry vir die groot geleentheid.
Teen Donderdagoggend het sy nog R8000 benodig vir Balie se uitgawes, wat onder meer sy vliegtuigkaartjie en akkommodasie insluit.
Talle Suid-Afrikaners het egter wonderlik gereageer en die geld is gou ingesamel.
LEES OOK: Mej. Rolstoel sê visa-struikelblok is geen stok in haar planne
In September het die mynmagnaat, Louis Liebenberg, R50 000 geskenk. Dit het grootliks haar kostes gedek omdat sy geen finansiële ondersteuning van die provinsiale regering van die Noord-Kaap óf die nasionale regering ontvang het nie.
Balie se visum-aansoek is boonop tydens hul eerste aansoek deur die Amerikaanse ambassade afgekeur, en hulle moes die 600km-lange reis na Kaapstad weer aanpak om sy visum goedgekeur te kry.
'n Stralende Bock het Donderdagaand glimlaggend en met trane in haar oë aan OFM-nuus vertel dat sy baie dankbaar is vir al die hulp hier aan die einde.
LEES OOK: Trane en vreugde vir Mej. Rolstoel SA
“Vir elke individu wat my borg, elkeen wat my op my reis ondersteun het, wil ek baie, baie, baie dankie sê.
“My boodskap aan alle Suid-Afrikaners is: Droom groot, moenie jouself beperk nie, jy kan jou drome bereik as jy die regte ingesteldheid het en positief bly.”
Sy sê haar droom is om die wêreld stap vir stap vir vroue in rolstoele te verander, “sodat ons ook 'n plekkie in die son kan geniet en geleenthede kan hê.
“Ek hoop om my land trots te maak en die titel na Suid-Afrika te bring.”
Lesers kan haar ondersteun deur op die Miss Wheelchair World se Faceboek-blad op haar foto te kliek.
