South Africa
VF Plus vra vir belastingafslag in begroting─── 06:22 Wed, 22 Feb 2023
Die Vryheidsfront Plus vra dat Suid-Afrika se 2023-begroting, wat vandag voorgelê word, nie net Eskom se finansiële posisie en skuld aanspreek nie, maar ook stelsels in plek stel om beurtkrag se skade teë te werk.
VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor finansies, Wouter Wessels, sê die energiekrisis se skade wat die land beleef, kan aangespreek word deur belastingtoegewings wat verligting aan sake-ondernemings en huishoudings sal bring en vervolgens die ekonomie sal stimuleer.
“Hoewel die begrotingstekort al hoe groter word, is dit belangrik om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Dit sal die belastingbasis vergroot en die land se fiskale posisie verbeter. Belastingverhogings sal kortsigtig en teenproduktief wees en ekonomiese groei teëwerk.“
Die party sê huishoudings moet deur belastingkortings aangespoor word om tot hernubare energiebronne oor te skakel. “Dit sal hul afhanklikheid van die Eskom-netwerk verminder, bydra tot die nasionale kragpoel en terselfdertyd groen kragopwekking bevorder.”
‘Staat se salarisrekening onvolhoubaar’
“Buiten die kragkrisis, is die staat se salarisrekening te duur om te bekostig. Dit is onvolhoubaar. Verlede jaar se voorsiening vir verhogings in die mediumtermyn-begroting is onrealisties en die druk van vakbonde neem toe terwyl die staat se beursie leeg is.“
Wessels sê die begroting moet nie knellende uitgawes onderskat of misken nie. “Besteding aan basiese dienslewering en infrastruktuur is deel van die onvermydelike uitgawes en dien as basis vir ekonomiese groei.”
‘Moontlike voorlaaste begrotingsrede deur ANC-minister’
Hy sê verder dat belastinggeld tot voordeel van die belastingbetalers en ekonomiese groei aangewend word, “nie ter bevordering van ANC-ideologie of kaderverryking nie”.
“Minister Enoch Godongwana moet die realiteit van die land se benarde situasie in ag neem saam met die realistiese moontlikheid dat dit moontlik die voorlaaste begrotingsrede is wat ’n ANC-minister in Suid-Afrika gaan lewer.”
