On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Skare in vervoering: Handelsradio 100 jaar oud

───   09:27 Mon, 18 Dec 2023

Skare in vervoering: Handelsradio 100 jaar oud | News Article
Radio, steeds SA se geliefde medium. Foto ter illustrasie

“Die inslag wat die konsert gevind het, was ver groter as wat verwag is en die reaksie op die nuus het die wildste drome van die organiseerders oortref.”

Radio floreer in Suid-Afrika ten spyte van die toename in selfone, sosialemedia-apps en stroomdienste. Sowat 80% van Suid-Afrikaners luister weekliks na minstens een radio-uitsending, die meeste met 'n tradisionele radiostel. 

Terwyl die radiowese in baie wêrelddele swaarkry weens mededinging van nuwer mediums, gaan dié medium van krag tot krag by ons waar luisteraars toegang het tot sowat 40 handels- en openbare radiostasies en meer as 280 gemeenskapstasies. Op die 100ste verjaardag van die eerste handelsuitsending kyk ons na die aanloop tot dié grootste oomblik in ons land se geskiedenis.

Die eerste handelsradio-uitsending ter wêreld was op 2 November 1920 toe die Westinghouse Electric and Manufacturing Company in Pittsburgh, Amerika, regstreeks uitgesaai het oor die presidentsverkiesing waarin die Republikein sen. Warren G. Harding die Demokraat goew. James M. Cox, albei van Ohio, verslaan het.

In Suid-Afrika het groot belangstelling in die nuwe medium geheers, maar dit was die radioamateurs wat met radio-uitsendings volgehou het en die nuwe medium stukrag gegee het. Nadat die uitsaaibeperkings van die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) ná die Vrede van Versailles opgehef is, kon amateurs voortgaan met hulle stokperdjie, wat tydens die oorlog ingemeng het met skeepskommunikasie.

‘Die heel eerste keer dat die woord “uitsaai” gebruik is’

Die eerste uitstalling van ’n “draadlose telefoon” was in Maart 1920 op die Westelike Provinsie se landboutentoonstelling in Rosebank, Kaapstad, toe duisende mense voor die Wireless Agency se stalletjie saamgedrom het om te luister na die wonder van stemme en grammofoonmusiek oor die eter, die hele ent van die Paarl (sowat 75 km) af.

’n Paar weke later het die Wireless Agency sy uitstallings op die Randse Tentoonstelling herhaal waar groot skares “radiotelefonie” in aksie kon sien. Talle was daarvan oortuig dat die musiek oor die luidsprekers die een of ander truuk was.

In September 1920 het ’n uitstekende geleentheid opgeduik om die mag van die draadloos te demonstreer toe die Skotse sanger en komediant sir Harry Lauder in Suid-Afrika kom toer het en groot opgewondenheid onder die hele bevolking gaande gemaak het. ’n Marconi- draadlose telefoontoestel in sy kamer in die Carlton-hotel het sy stem wat ’n Skotse volksliedjie gesing het, na honderde amateurluisteraars in Suid-Afrika uitgedra.

Die Skotse komediant en sanger sir Harry Lauder.

Een van die vroegste nuusuitsendings in Suid-Afrika was toe die Johannesburgse dagblad The Star gemeen het dit sou bydra tot die koerant se prestige om ’n nuusberig deur ’n draadlose telefoon te versend. Die maatskappy South African Aerial Transports het een van sy vliegtuie vir die uitsending uit die lug geleen.

Die eerste gereeld nuusuitsendings was toe Reuters vanaf Oktober 1920 aan erkende draadloosstasies ’n bulletin algemene Suid-Afrikaanse nuus verskaf het wat saans halftwaalf uitsaai is vir die gerief van die skeepvaart. Dit was die eerste keer dat die woord “uitsaai” (broadcast) gebruik is. Vanaf omstreeks dié tyd is die woord “inluister” algemeen gebruik namate mense bewus geword het van die plesier wat hulle daaruit kon put om na boodskappe oor ’n draadlose telefoonontvanstel te luister.

’n Biljet wat mense nooi na die allereerste handelsradio-uitsending in Suid-Afrika, presies 100 jaar gelede.

In dieselfde jaar is verdere belangstelling in draadlose telefonie gewek toe die goewerneur-generaal sedert 1914, lord Buxton, met die Llanstephan Castle na Engeland sou terugvaar. ’n Paar uur nadat die skip Tafelbaai verlaat het, het die Kaapse sanger Frank Wignall vir hom ’n spesiale uitvoering gegee deur ’n klein sendertjie in die Wireless Agency se kantoor in St. Georgestraat wat die skip suksesvol opgevang het.

Toe ’n nuwe Posmeester-generaal, kol. F.A. Sturman, 28 Augustus 1921 diens aanvaar, het hy gemeen radioamateurs moet beheer word, en daarom opdrag gegee dat ’n volledige opname van hulle gemaak word. In sy amptelike verslag wat hierop gevolg het, het Sturman geskryf lisensies sou toegestaan word aan persone wat waarskynlik deur die gebruik van hulle draadloosapparate wetenskaplike ondersoek sou bevorder. 

Sir Ernest Shackleton.

Die maak van “cat’s whisker”-kristalstelle as tydverdryf het so toegeneem dat Sturman die parlement ingelig het dat amateurdraadloos-installasies geïnspekteer moes word.

In 1922 het die Kaapse middagblad die Cape Argus gehelp om die bruikbaarheid van die radio te demonstreer. Die navorsingskip die Quest sou binnekort vanaf Antarktika terugkeer waar die ekspedisieleier sir Ernest Shackleton vermis geraak het. Terwyl die skip onderweg was na Tafelbaai, het ’n span verslaggewers oor die radio met die Shackleton se opvolger gepraat. Die koerant se personeel het ook ’n opsomming van die belangrikste wêreldgebeure opgestel om die skeepsbemanning, wat maande lank van die buitewêreld afgesny was, op die hoogte te bring.

Die Llanstephan Castle.

Die Argus het enkele maande lank aangehou om musiekprogramme uit te saai wat tot by Port Nolloth aan die verre Namakwalandse kus gehoor kon word, maar die programme is gestaak toe die tydelike lisensie verval het wat die Posmeester-generaal uitgereik het.

Die draadloos het ’n belangrike sakebedryf in Suid-Afrika geword. Ondernemende oorsese vervaardigers het kennis geneem van die toenemende belangstelling in die medium in die Unie en talle advertensies het in die koerante verskyn, hoofsaaklik gemik op mense wat hulle eie ontvangstelle wou bou.

Amateursenders was steeds die kern van die groeiende bedryf, maar daar was tekens van meer ambisieuse planne. Kimberley was die toneel van die volgende groot stap in die uitsaaiwese toe greelde radioprogramme van 6 tot 11 Augustus I 923 uitgesaai is tydens die Uitstallings- en Galaweek ter viering van die opening van die nuwe spoorlyn na Winter’s Rush. Die 90 minute lange programme is hoofsaaklik saans uitgesaai.

Die SA Spoorweë se hoofkantoor in Johannesburg van waar die eerste handelsradio-uitsending uitgesaai is.

Grammofoonplate is gespeel, bekende musici van Kimberley het opgetree en die tydsein van Slangkop, Lourenço Marques en Europese stasies is uitgesaai. Tussenin is boodskappe van gelukwense van toonaangewende burgers van Suid-Afrika ingesluit. Die fone is geleen deur Radio Stores en die opgaarbatterye deur Palvie’s Garage.

Kort daarna is ’n belangrike nuwigheid in Pretoria gedemonstreer. Die eerste “luidsprekeruitsaaistelsel” is op 12 November 1923 op Kerkplein bekendgestel. The Star het berig die apparaat bestaan uit ’n spesiale sender wat aan ’n 4-buisversterker gekoppel is. Op sy beurt was die versterker verbind met spesiale ontvangtoestelle wat aan projektors gekoppel was.

Die berig lui: “’n Toespraak in gewone stemtoon van die poskantoor af is duidelik op die plein gehoor en dit behoort moontlik te wees dat ’n spreker sonder steminspanning met ’n gehoor van 5 000 of 6 000 kan praat. Die apparaat kan aangepas word, nie net vir buitelugtoestande nie, maar vir versending oor die gewone telefoondiens en versterk sodat ’n skare dit op ’n openbare plein of in ’n saal kan hoor. 

“Dit sal vir sprekers in die stadsaal moontlik wees om hulle duidelik hoorbaar te maak op Kerkplein of op vergaderings in Johannesburg, Bloemfontein, Kimberley, Oos-Londen of op enige plek waar versterkers aangebring is.”

Kerkplein, Pretoria, van waar die eerste radio-uitsending oor luidsprekers plaasgevind het.

As ’n radiostasie opgerig sou word, sou daar outomaties ’n vraag na ontvangstelle wees. Die sakewêreld was gereed vir die moontlikheid en sekere firmas het aangebied om senders vir ’n beperkte tyd gratis te verskaf. Luisteraars sou nie daarsonder kon klaarkom as hulle eers smaak vir die vermaakmedium ontwikkel het nie, is gemeen.

Onder die firmas wat so ’n aanbod gemaak het, was die Western Electric Company. Die Suid-Afrikaanse Spoorweë was een van sy vernaamste klante vir ander soorte elektriese toerusting, en in 1923 het die maatskappy gevoel dat die tyd ryp was om sy mededingers die loef af te steek. ’n Openbare oproep is gedoen en verskeie idees is voorgestel om belangstelling in die nuwe medium te wek.

In November 1923 is aangekondig dat die reëlings feitlik afgehandel is vir die uitsending van ’n reeks konserte van Johannesburg af na die Spoorweginstitute te Witbank, Pretoria en Germiston. Hierdie konserte sou elke Saterdagaand in November plaasvind en sou van die Spoorweghoofkantoor af uitgesaai word. Die jongste model stel sou gebruik word.

Sir William Hoy, eerste hoofbestuurder van die SA Spoorweë, was ’n sterk voorstander van handelsradio-uitsendings.

Sir William Hoy, hoofbestuurder van die SA Spoorweë, was ’n sterk voorstander van die gedagte en het ’n groot kantoor op die boonste verdieping van die hoofkantoor beskikbaar gestel. Die werk het stil-stil begin, maar die Johannesburgse publiek is nie ingelig oor die planne of vordering nie.

Verbygangers het egter opgemerk dat takelaars besig was om twee pypmaste bo-op die hoofkantoorgebou op te rig en lugdrade aan te bring. Die nuus het gou versprei dat iets besonders aan die gang is in die radiowêreld, en kort daarna is die eerste aankondiging gedoen: “Die uitsaaitoerusting en ontvangstelle wat by die konserte gebruik word, is goedgunstiglik deur Western Electric geleen. Die waarde van die toerusting is £6 000.”

‘Nie minder nie as 23 items is gratis aangebied’

Weinig Suid-Afrikaners het hulle eie radiostel gehad. Om die grootste voordeel uit die uitsaaigeriewe te trek, sou “gemeenskapsbeluistering” ingestel moes word. Daar was egter onsekerheid oor die geskikste plek waar die skare byeen sou kon kom om in te luister.

Feitlik reg langs die Spoorweghoofkantoor het die oudste sinagoge in Johannesburg leeggestaan nadat dit ontruim is sodat dit gesloop kon word om plek te maak vir die nuwe stasie. Die sinagoge is gekies en met luidsprekers en stoele toegerus. Soortgelyke reëlings is orals aan die Rand getref.

Nie minder nie as 23 items is gratis aangebied, maar die eerste was sekerlik die belangrikste: ’n toespraak deur die eerste minister, genl. J. C. Smuts. Hy sou vanaf Robertshoogte (later Voortrekkerhoogte genoem en nou Thaba Tshwane) praat, wat per landlyn aan die Spoorweghoofkantoor verbind is.

Genl. J.C. Smuts, eerste minister van die Unie, se toespraak tydens die eerste uitsending was onhoorbaar weens ’n donderstorm.

Volgens The Star “het ’n stem op die kop om agtuur oor een van die tregtervormige luidsprekers gekom. Bewondering was op die gesigte van baie mense en hulle het opgewonde onder mekaar gefluister. Die stem was die van die Eerste Minister . . . Dit was in duidelike toon, maar onverstaanbaar in spraak aangesien ’n donderstorm die uitsending belemmer het…”

Die eerste musiekstuk was ’n uitvoering deur die Johannesburgse mannekoor en dit is gevolg deur vrolike sang. Ter afwisseling van die vrolike sang was daar ’n aria deur ene Greenslade en ’n viooluitvoering deur George Moss. Ook op die program was Johannesburg se gewildste dansorkes, die beroemde UPC-kombinasie.

Die Johannesburgse Operavereniging het uittreksels gesing uit Jolande, Die Mikado en Die Seerowers van Penzance. Onder die soliste was Anna Clive, ene Sumner, Alfred Belt en Alfred Bertwhistle. ’n Bekende musikus onder die Randse publiek van daardie dae was die dirigent van die Spoorweg- en Hawe-orkes wat by die geleentheid ’n kornetsolo gelewer het. Kort voor tienuur het die Ophir-kwartet die aand met ’n Grand Finale afgesluit. Die pers was in vervoering. Die hoofberig van The Star het gelui:

SUCCESS OF THE RAILWAY CONCERT

Dancing by Wireless

CONCERT HEARD IN CAPE TOWN

Die inslag wat die konsert gevind het, was ver groter as wat verwag is en die reaksie op die nuus het die wildste drome van die organiseerders oortref. Genl. Smuts se toespraak moes wel ná die tyd gedruk en versprei word ter wille van die luisteraars vir wie dit onverstaanbaar was, en dit is ook waar dat die ontvangs naby die Spoorweghoofkantoor swakker was as verder daarvandaan. 

Maar hierdie nadele is oorskadu deur die opgewondenheid en algemene effektiwiteit van die uitsending. Dit was die begin van handelsradio-uitsendings in Suid-Afrika, waarvan miljoene luisteraars vandag nog die vrugte pluk.

Verwerk uit: U het geluister, deur Eric Rosenthal

OFM Nuus/Morné van Rooyen

 

 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.