On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Afrikaans klink nog flink in die akademie

───   08:18 Thu, 08 May 2025

Afrikaans klink nog flink in die akademie | News Article
Yolandi Farham, Afrika-produkdirekteur by Oxford Universiteitspers Suid-Afrika (OUPSA), sê akademiese Afrikaans is besig om ’n kleurvolle baadjie aan te trek. Foto verskaf

Die dae toe moeilike akademiese woorde kinders in hulle slaap laat sweet het, is iets van die verlede.

Deesdae duik woorde soos “flaterwater”, “rymkletser” en “oogpoeding” sommer vrylik in Afrikaanse handboeke op – en dis presies die soort kleurryke taal waarin kinders en tieners graag kommunikeer, sê Yolandi Farham, Afrika-produkdirekteur by Oxford Universiteitspers Suid-Afrika (Oupsa).

Sedert die amptelike erkenning van Afrikaans in die Unie van Suid-Afrika – vandag honderd jaar gelede – het die taal ook as ’n wetenskaplike en akademiese medium gegroei. Tog het Engels die laaste paar jaar toenemend ’n sterk houvas in die akademiese wêreld gekry.


’n Voorbeeld hiervan is dat universiteitshandboeke ál minder in Afrikaans gepubliseer word. “Dit is ongelukkig ’n pynlike waarheid,” sê Farham. “Ons sien nie meer ’n groot aanvraag na universiteitshandboeke in Afrikaans nie, want die meeste universiteite se voertaal is Engels.”

Dít is egter nie die geval by Afrikaansmediumskole nie. “Ek kan nie sê hoeveel Afrikaanse handboeke ons per jaar publiseer nie, maar daar is ’n groot vraag na unieke Afrikaanse handboeke wat die beleweniswêreld van (vandag) se kind en tiener uitbeeld. En dit moet ook in ’n taal geskryf word wat hulle verstaan.”

“Woordeboeke is ook allesbehalwe besig om van die toneel te verdwyn,” sê Farham. “Ons publiseer steeds aktief, onder meer die drietalige Afrikaanse Skoolwoordeboek wat ook Kaapse Afrikaans insluit. Daar is ook ’n groot vraag na ons tweetalige Afrikaans-Engels Skoolwoordeboek, wat ons sommer ‘die Tweet’ noem.”


Farham beklemtoon die belangrikheid van moedertaalonderrig. “Vir jonger kinders is dit veral belangrik om in hulle moedertaal te leer lees. Vir tieners is dit weer belangrik om te kommunikeer in die taal wat hulle na aan die hart lê.

“Dit word veral gesien in die nuutskeppings wat hulle deesdae inspan. Dit help hulle om uitdrukking aan hul emosies te gee, en op dié manier bly Afrikaans baie relevant.”

Dit is ook net ’n mite dat digitale boeke besig is om gedrukte boeke te versmoor. “Ons publiseer handboeke in Afrikaans vanaf gr. R regdeur tot en met gr. 12,” sê sy. “Inteendeel, die oorgrote meerderheid van handboeke word steeds gedruk.


“Digitale formate bied egter vir ons die geleentheid om leerders – of dit nou kinders, tieners of studente is – bloot te stel aan leermateriaal wat nie noodwendig in gedrukte formaat moontlik sou wees nie.

“Byvoorbeeld, jy kan video’s en klank byvoeg, asook meer relevante, moderne voorbeelde en gevallestudies insluit. ’n Begripstoets oor ’n gunstelingmusiekster of onlangse gebeurtenis maak die teks meer toeganklik en betekenisvol vir die leerder.”

’n Loslit tonglekkertaal

Farham glo dat Afrikaans nog vir jare gaan voortbestaan – nie net as ’n loslit tonglekkertaal nie, maar ook as ’n akademiese taal. “Afrikaans is dinamies; ons sien hoe die taal lewe en in soveel verskillende kontekste en kulture gebruik word.

“Dat Afrikaans selfs reklame kry oor die wêreld, maak my opgewonde dat die taal sal aanhou lewe en beweeg, selfs oor landsgrense heen.”

OFM Nuus/Yolanda Barnard-Lemmer cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.