On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

South Africa

Ramaphosa reageer op VSA se invoertariewe van 30%

───   07:11 Tue, 08 Jul 2025

Ramaphosa reageer op VSA se invoertariewe van 30% | News Article
President Cyril Ramaphosa ontmoet president Donald Trump op Woensdag, 21 Mei 2025. (Foto: Withuis Amptelik/Daniel Torok)

President Cyril Ramaphosa het Maandag (7/7) bevestig dat hy die formele kennisgewing van die Amerikaanse regering ontvang het rakende ’n eensydige besluit om 30% invoertariewe op sekere Suid-Afrikaanse produkte toe te pas.

Luidens ’n verklaring van die Presidensie is dié besluit deel van ’n wyer stel kommunikasies wat op 7 Julie 2025 aan verskeie lande, insluitend Suid-Afrika, gestuur is.

Die tariefverhoging is gegrond op wat Ramaphosa beskryf as ’n “bestrede interpretasie” van die handelsbalans tussen Suid-Afrika en die VSA. Die president sê onderhandelinge is steeds aan die gang, en Suid-Afrika hou vol die 30%-heffing stem nie ooreen met werklike handelsdata nie.


“In ons interpretasie van die beskikbare datas taan die gemiddelde invoertarief op goedere wat Suid-Afrika binnegaan op 7,6%, terwyl 56% van alle goedere teen 0%-tarief ingevoer word; 77% van Amerikaanse goedere kom tans sonder invoerbelasting Suid-Afrika binne,” lui die verklaring.

Ramaphosa sê die land sal voortgaan met diplomatieke pogings vir ’n “meer gebalanseerde en wedersyds voordelige” handelsverhouding met die VSA. Hy verwelkom dat die Amerikaanse regering aangedui het dat die tarief hersienbaar is, afhangend van die uitkoms van die onderhandelinge.

Tydens die VS-Afrika-beraad in Luanda op 23 Junie het Suid-Afrika verneem van ’n nuwe Amerikaanse raamwerk vir onderhandelinge met sub-Sahara Afrika. Dié dokument is egter nog nie aan die Suid-Afrikaanse span oorhandig nie. 

Intussen het Ramaphosa sy span opdrag gegee om dringend voort te gaan op grond van die raamwerkooreenkoms wat reeds op 20 Mei 2025 aan die VSA voorgelê is. Die voorgestelde ooreenkoms spreek kwessies aan wat die VSA vroeër geopper het – insluitend beweerde handelsurplusse, sogenaamde onregverdige praktyke, en ’n gebrek aan wedersydse toegang tot markte.

Ramaphosa het Suid-Afrikaanse ondernemings en onderhandelingspanne ook aangemoedig om hul diversifiseringspogings te verskerp om groter veerkragtigheid in wêreldwye voorsieningskettings en die plaaslike ekonomie te verseker.

OFM Nuus/Verklaring

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.