On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Al meer voëls in Suider-Afrika bedreig ­– aanlyn rooidataboek

───   14:33 Mon, 27 Oct 2025

Al meer voëls in Suider-Afrika bedreig ­– aanlyn rooidataboek  | News Article
Die swartaasvoël (middel) is “opgegradeer” van bedreig tot kritiek bedreig, terwyl die kransaasvoëls weerskante van hom nou nie meer kritiek bedreig is nie, maar wel steeds bedreig bly. Foto: Facebook/Birdlife SA/Wild by Nature Photography

Die jongste data toon ’n kommerwekkende toename in bedreigde voëlspesies in Suider-Afrika. 147 spesies word nou as bedreig of byna bedreig gelys – ’n styging van 15 sedert 2015.

Van dié 147 is 39 spesies “opgegradeer” na ’n hoërrisikokategorie. Die situasie van slegs agt het verbeter, volgens die 2025-uitgawe van die Regional Red Data Book of Birds of South Africa, Lesotho and Eswatini (RDB), wat nou aanlyn beskikbaar is.

Menslike aktiwiteite soos habitatvernietiging, klimaatsverandering en direkte vervolging speel ’n groot rol in hierdie agteruitgang, sê Birdlife SA, ’n sleutelrolspeler in die samestelling van die data. Die boek is die produk van drie jaar se intensiewe werk deur meer as 137 voëlkundiges, bewaringskundiges en burgerlike wetenskaplikes, luidens ’n artikel in African Birdlife, tydskrif van Birdlife SA.

Die Vaalrivierlewerik is ook nou kritiek bedreig. Foto: Facebook/Birdlife SA/Jim Wilson

Die nuwe RDB aanlyn bevat 193 gedetailleerde assesserings van voëlspesies in Suid-Afrika, Lesotho en Eswatini. Dit sluit in 70 endemiese en byna-endemiese spesies waarvan die risiko tans as laer beskou word as voorheen, soos die Kaapse suikervoël en oranjeborssuikerbekkie.

Sommige van die streek se mees ikoniese voëls is egter op die rand van uitwissing. Dit sluit in die swartaasvoël, voorheen bedreig, maar nou kritiek bedreig weens faktore soos vergiftiging, botsings met infrastruktuur en habitatverlies. 

Die Vaalrivierlewerik, wat afhanklik is van Hoëveldgrasveld, is eweneens in gevaar weens landbou-ontwikkeling. Daar is tans slegs ongeveer 340 van dié voëls oor, slegs 10% van wat die getal ’n dekade gelede was.  

Ook die kalkoenibis is nou bedreig nadat dit voorheen as kritiek bedreig geklassifiseer was. Foto: Facebook/Birdlife SA/Pauline van der Spuy

Tog is daar hoop: geteikende bewaring het verbeterings gebring vir spesies soos die kransaasvoël, lelkraanvoël en kalkoenibis.

“Die RDB is nie net ’n navorsingsinstrument nie, maar ’n noodsaaklike hulpmiddel vir beleid, bewaringsbeplanning en vinnige reaksie op krisisse – soos die onlangse vergiftiging van aasvoëls,” sê Mark Anderson, uitvoerende hoof van BirdLife South Africa. 

Die proses identifiseer ook leemtes in kennis en rig toekomstige navorsing, soos in die geval van die witvlerkvleikuiken, wat onlangs afgegradeer is van kritiek bedreig na bedreig ná die ontdekking van nuwe broeigebiede.

Vleilande gaan agteruit

Dr. Hanneline Smit-Robinson, hoof van bewaring by BirdLife SA en redakteur van RDB aanlyn, sê die data toon die kommerwekkende agteruitgang van die land se vleilande. 

Dit word gesien in die toename van die getal voëls, veral watervoëls, wat nou as bedreig geklassifiseer word.

“Ons suksesse wys egter strategiese bewaringsoptrede lewer werklik resultate op. Hierdie hulpmiddel help om presies te bepaal waar daardie optrede die dringendste nodig is.”

Vrywilligers se reuserol

’n Unieke aspek van die RDB aanlyn is hoe daar op burgerwetenskaplikes gesteun word. Projekte soos die volgende, wat lei tot miljoene waarnemings, bied aan vrywilligers die geleentheid om by te dra tot die bewaring van en navorsing oor voëls:

  • SABAP2 (Southern African Bird Atlas Project 2): Voëlwaarnemings per gebied word versamel om verspreiding en veranderinge oor tyd heen te monitor.
  • CWAC (Coordinated Waterbird Counts): Watervoëls word by vleilande en in kusgebiede getel om tendense en habitatgesondheid te bepaal.
  • CAR (Coordinated Avifaunal Roadcounts): Groot grondvoëls word langs landelike roetes getel om rekord te hou van bevolkings en bedreigings.

Hierdie projekte help om tendense vas te stel en spesies wat in gevaar verkeer, te identifiseer en is fundamenteel om akkurate, bygewerkte data te verskaf.

Die RDB aanlyn sal ’n sleutelrol speel in bewaringsbesluite regoor Suider-Afrika. Besoek die databasis by www.birdlife.org.za/red-data-book.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.