On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Laurika
Listen Live Streams

South Africa

Vuurwapenwet: ‘Selfverdediging nie geldige rede om wapen aan te skaf’

───   09:33 Tue, 30 Dec 2025

Vuurwapenwet: ‘Selfverdediging nie geldige rede om wapen aan te skaf’ | News Article
Foto: www.righttobeararmsnm.com

Die omstrede wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer het vroeër vandeesmaand in die parlement opgeduik en ’n hewige debat aangewakker oor die regering se druk vir strenger wapenbeheer teenoor burgers se behoefte aan selfbeskerming.

In reaksie op vrae in die parlement rakende die wetsontwerp, sê die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) is nog besig om die wet te hersien. Die voorgestelde wetgewing is in 2021 vir openbare kommentaar gepubliseer en het oorweldigende teenkanting ontvang (meer as 95 000 verwerpings), waarna dit uitgestel is vir hersiening.

BusinessTech berig die kern van die kontroversie is die regering se voorstel om selfverdediging te verwyder as ’n geldige rede vir die verkryging van ’n vuurwapenlisensie.

Foto: Rosenblumlaw.com

Die wet stel verskeie ander streng maatreëls in, naamlik die vereiste van “uitsonderlike omstandighede” (pleks van selfverdediging) as ’n geldige rede vir die besit van ’n vuurwapen; die beperking van slegs 100 rondtes ammunisie per vuurwapen en beperkings op lisensies vir jagters en skuts. Dit gee ook die minister van polisie breë, ongekontroleerde mag oor die uitreik van lisensies.

In sy reaksie op parlementêre vrae het Cachalia erken dat onwettige vuurwapens grootliks afkomstig is van bronne wat nie verband hou met Suid-Afrikaanse burgers met vuurwapenlisensies nie. “Die toename in onwettige vuurwapens wat die Republiek binnekom, word hoofsaaklik veroorsaak deur ’n wegbeweeg van wettige markte, diefstal, bedrog en die onwettige vervaardiging van wapens,” sê Cachalia.

Hy sê vuurwapens “word hoofsaaklik uit Zimbabwe, Mosambiek, Eswatini en Lesotho gesmokkel”. Sindikate buit ook Suid-Afrika se grense uit wat maklik gekruis kan word.

‘Wetsontwerp laat gewone burgers weerloos’

DA-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, spreek sy kommer uit en voer aan dat die wetsontwerp gewone burgers weerloos sal laat.

“Die ontwapening van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners sal nie geweldsmisdaad stop nie. Dit sal ons gemeenskappe slegs meer kwesbaar maak terwyl die werklike skuldiges – korrupte amptenare en kriminele sindikate – onaangeraak gelaat word,” sê Cameron.

DA-LP Ian Cameron. Foto: BizNews

“Die staat faal elke liewe dag om sy burgers teen geweldsmisdaad te beskerm. Enige poging om wetsgehoorsame Suid-Afrikaners te ontwapen, neem in werklikheid hul lewensboei weg in die nasleep van die misdaadepidemie wat ons land steeds teister.”

Terwyl voorstanders van die wetsontwerp, insluitend die ministerie van polisie, daarop aandring dat vuurwapenbesit ’n voorreg eerder as ’n grondwetlike reg is, voer kritici aan dat in ’n land met een van die wêreld se hoogste moordsyfers die verwydering van wettige selfverdedigingsopsies burgers effektief van hul reg op lewe en sekuriteit van hul persoon ontneem.

Belangegroepe spoor Suid-Afrikaners aan om voorleggings aan Nedlac te maak oor die wetsontwerp.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.