On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Laurika
Listen Live Streams

South Africa

Rekordgetal mense stroom op een dag van Zim na SA

───   09:52 Wed, 31 Dec 2025

Rekordgetal mense stroom op een dag van Zim na SA | News Article
Foto (skermskoot): Facebook/SA National Defence Force/Kapt. Connie Molwantoa

Soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het op 26 Desember tydens ’n feesseisoen-patrollie altesaam 1 174 ongedokumenteerde mense, wat vanuit Zimbabwe SA probeer binnekom het, in hegtenis geneem.

Dié inligting het na vore gekom toe beeldmateriaal van lang rye mans, vroue en kinders op sosiale media gedeel is. ’n Woordvoerder van die SANW, kapt. Moses Semono, sê in ’n verklaring dit is ’n rekordgetal instromings vir een dag. 

“Dit is die eerste keer dat ons lede so ’n massiewe toestroming gedurende hierdie tydperk van die feestyd moes hanteer,” sê hy.

Foto (skermskoot): Facebook/SA National Defence Force/Kapt. Connie Molwantoa

Ongedokumenteerde mense kom veral op Kersaand en Welwillendheidsdag Suid-Afrika deur onwettige grensposte binne. “Die situasie is vererger deur die ongewone aggressiwiteit van sommige individue. 

“Skutter T.M. Mokoena het ’n steekwond aan sy voorarm opgedoen terwyl hy homself teen ’n ongedokumenteerde persoon, wat hom aangerand het, verdedig het. Danksy die hoë standaard van die weermag se opleiding, kon skutter Mokoena die gevaar afweer en die situasie neutraliseer sonder om dodelike geweld te gebruik.”

Die ongedokumenteerde mense is aan Suid-Afrika se Immigrasiedienste oorhandig. Kol. Dikgabane Herold Tladi, offisier in bevel van die gesamentlike taktiese hoofkwartier in Limpopo, het die soldate geloof vir hul selfbeheersing en professionaliteit, en Mokoena ’n spoedige herstel toegewens.

Grense, hulpbronne, spanning

In kommentaar op die plasing op Facebook, noem ene Iviwe Vivi Genqese dat daar ook “’n instroming is van mense wat van Lesotho af inkom”. 

Hierop reageer ene Ntate Danger Namane: “Wat ons Basotho betref, ons het grond en hulpbronne in SA, so ons volg hulle saam met ons water. Die SANW moet terugstaan en ons gladweg laat deurgaan. 

“Terloops, ons almal weet dis onmoontlik om ’n muur van vleis rondom Lesotho te maak. Lesotho en SA het altesaam 14 grensposte en nog 10 000 kruispunte, insluitend waar sommige dorpies in beide lande lê.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.