On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Kursus in berading verryk en verander die lewens van mense in nood

───   SUSAN MARÉ 15:42 Thu, 30 Jul 2026

Kursus in berading verryk en verander die lewens van mense in nood | News Article
Beraders van Alfa Pastorale Praktyk by ’n kindergroep van Pretoria. Foto verskaf

“As onseker jong man en depressielyer was die Alfa-kursus die heel beste ding wat in ’n lang tyd met my gebeur het. Ek het weer hoop en ’n houvas …” vertel Koos Botha, ’n werklose matrikulant.

Honderde beraders, gemeenskapsleiers en gewone mense het al sedert 1987 vir Alfa Pastorale Praktyk in Pretoria se pastorale kursus ingeskryf en hul eenjaarsertifikaat verwerf. Die studente was nie net van Suid-Afrika nie, maar selfs van Sidney in Australië, Amsterdam in Nederland en Namibië. 

Die kursus is vir enigiemand toeganklik wat rekenaarvaardig is. Dit word geakkrediteer deur Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria. Die kursus is ook geregistreer en geakkrediteer by die Council for Pastoral and Spiritual Counsellors in Suid-Afrika.

Dr. Jan Botha, ’n predikant en pastorale berader van Pretoria. Foto verskaf

Die kursus fokus op pastorale opleiding, berading en veral gemeenskapsdiens. Dr. Jan Botha, ’n pastorale berader en predikant van die NG gemeente Florauna, sê die kursus staan vierkant in die idioom van missionale kerkwees.

Missionale kerkwees beteken dat ’n gemeente nie net wag dat mense na die kerk toe kom nie, maar self die wêreld ingaan om God se liefde te wees. Dit is om prakties uit te reik na mense of gemeenskapsgroepe wat dit nodig het.

“ ’n Voorbeeld is waar Alfa deel is die Zama-Zama Hope 4 U Foundation. Zama-Zama is ’n sentrum van hoop wat NG gemeentes en ringe in die Weste van Pretoria begin het in samewerking met die Noordelike Sinode en ’n netwerk van vennote.


“As jy onder die armstes wil werk, is een van die belangrikste dinge om daar wees vir hulle, maar ook om opgelei te wees. Daar is verskillende soorte armoede. In party gevalle het die mense hulself daaraan oorgegee. Hulle doen niks om daaruit te kom nie.

“In ander gevalle, soos in die Zama-Zama-plakkerskamp met hutte van hout en sink, wil mense nog iets beter hê. Zama-Zama beteken probeer-probeer.

“Die raad wat ons gekry het oor hoe om Zama-Zama te help verander was om dáár te wees vir hulle. Ons moes ’n bediening van teenwoordigheid beoefen.

Beraders bied spesiale aktiwiteite aan vir kindergroepe. Foto verskaf

“Dit is egter ook belangrik om opgelei te wees om mense in jou gemeenskap of lewensraamwerk te help. Die Alfa-kursus lei mense op om op die regte manier te kan help om daaglikse etiese kwessies te hanteer en pastorale dienste te verrig.

“Mense wat die kursus voltooi het, word aangemoedig om by bestaande netwerke aan te sluit of hul eie nie-winsgewende organisasie te stig en so ’n verskil te maak.

“Uitreikings na mense in nood inspireer ander kerklidmate of individue om ook betrokke te raak. Hulle kook saam kos vir skole of gemeenskappe waar dit swaar gaan. Dit is dikwels kos van groente uit tuine waar mense geleer is om selfversorgend te wees.”

‘Opleiding deur Alfa is kreatief, vernuwend, holisties, multikultureel, 
interkerklik en interdissiplinêr’

Nog mense wat op ’n wye vlak betrokke is by opheffing en uitreiking by Zama-Zama en ander noodbehoewendens in Pretoria, is dr. Retha Kruidenier, pastoor Florence Maphosa en proponent Yvette Bosman.

Kruidenier sê opleiding deur Alfa is kreatief, vernuwend, holisties, multikultureel, interkerklik en interdissiplinêr. Dit is gerig op die geestelike, materiële, sielkundige, maatskaplike en mediese behoeftes van mense.

“Studente doen ook onder toesig praktiese werk in hul gemeenskappe om sodoende die kennis wat hulle in die kursus opgedoen het, toe te pas. So word die koninkryk van God gedien en uitgebrei in almal se unieke konteks.”

Die kursus bied aan studente ’n stewige teologiese grondslag, ontwikkel etiese en dinamiese leierskap en ontwikkelingsmylpale in eie menswees en selfsorg. Die praktiese gemeenskaps- en kontekstuele aanslag rus mense toe om mense in nood by te staan.

Studente wat Alfa se kursus deurloop en voltooi het, praat met lof van hoe dit hul lewens verander het. Hierdie studente is enkelouers, onderwysers, bankiers, boere, entrepreneurs, ambagslui en ’n wye verskeidenheid ander beroepe en individue.

Paul de Lill, ’n werklose man en stukwerker van die Kaapse Vlakte, skryf hy is met ope arms ontvang deur die aanbieders van die Alfa-kursus en later ook deur ’n Kaapse groepstudent: “Almal het gehelp, was eerlik en opreg en het my menswaardig behandel. Nou kan ek almal in die oë kyk en die goeie akademiese kwalifikasie maak talle deure vir my oop.

Respek

“My skollievriende het nou respek vir my en ek dien die Here met my hele hart. Ek help ook ander skollies en ander bende-ouens met berading, gebed en omgee,” sê De Lill.

’n Boer van Noenieput, Coenie van der Merwe, skryf die Here het hom op die plaas en in sy gemeenskapswerk weer bewus gemaak van wat hy alles deur die kursus geleer het: “Dit is kennis wat ek nooit sou gehad het as ek nie ingeskryf het nie. Dit het my menswees baie aangeraak.”

Uit Sidney in Australië skryf Elni Venter, ’n tuisteskepper en deeltydse administratiewe werker: “Afstand is geen rede om nie self te groei en baie sinvolle dinge aan te leer nie. Vaardighede uit my nuwe ‘toolbox’ help my soveel met my drie kinders se dissipline, roetine en opvoeding.

Gemeentelede van ’n kerk help met groenteverwerking. Foto verskaf

“Ek tree nou met baie meer selfvertroue op en lees baie meer oor hoop om in die nou te leef. Die sertifikaat maak ook ander deure oop vir hulp en berading by die kinders se skool en aftreeoord.”

Albe Koopman, pastoor by Faithful Ministries International in die Noord-Kaap, sê hy gaan nou met die “gereedskapsboks” wat die Alfa-kursus vir hom gegee het kyk of hy nie kan help om maatskaplike probleme te kan oplos nie.

“Ek probeer om rehabilitasieprogramme te doen om die verslaafdes sowel as die siekes hoop te gee. Ons is ook besig om hoop vir gestremdes te bied deur gebedsgroepe na hulle te stuur.”

Enigiemand wat belangstel om vir die kursus in te skryf moet dit voor 31 Januarie 2027 doen. Doen navraag by dr. Jan Botha.

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.