Agri Hour
Papegaaisiekte kan griepagtige simptome veroorsaak─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 28 Oct 2020

Papegaaisiekte is ‘n siekte wat oorgedra kan word deur onder meer papegaaie na mense, wat dan griepagtige simptome kan veroorsaak.
Lise Roberts, ‘n aanbieder van Plaas Media se aanlyn-televisieprogram, Plaas TV, het met die veearts, dr. Jan du Preez, gesels oor wat hierdie siekte behels en hoe dit oorgedra kan word.
Hier is Roberts en Du Preez…
Sien onderstaande PODCAST
Du Preez sê papegaaisiekte kom voor by verskeie voëls, soos kou- en loopvoëls, en word deur bakterieë veroorsaak. Hy sê meer as 400 voëlspesies kan hierdie siekte dra.
Hy verduidelik dat die meeste voëls wat hierdie siekte dra, asimptomaties is, wat beteken dat die voël nie siek word nie en ook nie simptome wys nie. Du Preez sê papegaaie skei meer van hierdie bakterieë af wanneer hulle onder stres is. Hy sê stres word veroorsaak wanneer daar te veel papegaaie in ‘n hok is, as hulle nie goeie kos kry nie, die wind te veel waai en as hulle van een plek na ‘n ander vervoer word.
“Ons voer baie papegaaie in en uit en in kwarantyn word hulle nie goed hanteer nie. Omdat hy dan stres ervaar, skei hy [bakterieë] uit deur sy mis. Die mis word droog en dit kan aerosol-druppels veroorsaak en dan asem die mens dit in,” verduidelik hy.
Du Preez sê hierdie siekte teiken spesifiek die mens se longe en baie mense wat eienaars is van papegaaie word siek.
Hy voeg egter by dan daar nie ‘n entstof op die mark is om hierdie siekte te voorkom nie. Mense moet eers ingelig wees voordat hulle met papegaaie of ander voëls boer om sodoende voorsorgmaatreëls te tref voordat hierdie voëls in stresvolle situasies geplaas word.
Du Preez sê skape, beeste en ander diere kan ook hierdie bakterieë dra. Hy sê egter die kanse dat mense die siekte opdoen deurmiddel van hierdie diere is laag.
Hy moedig mense aan wat met hierdie voëls boer en hulle wil uitvoer, om ‘n veearts te besoek wat medisyne sal voorskryf wat sal help met die behandeling voordat die voëls vervoer word.
OFM-nuus