Agri Hour
Kersie-oes kondig SA se Kerstyd aan─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 04 Nov 2020

Dis amper weer daardie tyd van die jaar wanneer kersies begin pronk in amper alle bakkerye soos Suid-Afrikaners vir Kerstyd voorberei.
In vandag se insetsel kyk ons na kersieverkope in Suid-Afrika en die produksieproses van hierdie vrug. Lise Roberts, ‘n aanbieder van Plaas Media se aanlyn-televisieprogram, Plaas TV, het met Nico Verhoef, finansiële direkteur van Witzenberg Properties gesels oor kersies.
Hier is Roberts en Verhoef…
Sien onderstaande PODCAST
Verhoef sê die 2019 kersie-oes was ‘n teleurstellende oes nadat ongeveer 30% van ‘n normale kersie-oes afgehaal is. Hy sê dit kan toegeskryf word aan die droogte sowel as warm temperature gedurende die bloeityd. Ten spyte hiervan, word daar verwag dat vanjaar se kersie-oes ‘n verbetering sal toon vergeleke met verlede jaar se oes. Verhoef verduidelik egter dat vroeë aanduidings steeds toon dat daar nie vanjaar ‘n rekordoes gaan wees nie, maar wel ‘n gemiddelde oes.
Wat produksie betref, sê Verhoef kersies is ‘n moelike gewas om mee te boer. Hy voeg by dat hierdie vrug in die koue weer floreer. Alhoewel kersies minder water as ander sagte vrugte gebruik, is goeie besproeiing noodsaaklik. Hy sê kersies hou ook daarvan om op goed gedreineerde grysagtige grond geplant te wees. Verhoef sê dis baie belangrik om goed gematigde lente temperature te hê – verkieslik nie hoër as 20°Celsius nie.
Hy meen omdat kersies ‘n klein vrug is, moet daar ‘n groot arbeidsmag wees wat oor ‘n kort tydperk die oes optimaal sal kan oes. Hy sê dit is belangrik om die verkoeling vanaf die plukproses tot by die eindverbruiker baie goed te bestuur. Indien die verkoeling van kersies goed bestuur word, het dit ‘n baie goeie rakleeftyd. Hy sê die mark vereis ‘n sekere vruggroote - 26mm en groter. Verhoef verduidelik dat as ‘n kersie langer aan die boom gelos word, neem sy suiker toe en groei dit verder.
Volgens Hortgro se nuutste syfers, is sowat 360 ton van die ongeveer 640 ton wat in 2019 geoes is, uitgevoer na ander lande. Verhoef sê om kersies uit te kan voer moet die kwaliteit reg wees, wat die vruggrote insluit. Hy sê kleur en suiker-inhoud is ook belangrik in hierdie verband.
OFM-nuus