Agri Hour
Vier gevalle van hondsdolheid al in Vrystaat aangemeld─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:14 Mon, 30 Sep 2019
Nog twee gevalle van hondsdolheid is in die Vrystaat aangemeld. Dit kom nadat ‘n hond en ‘n rooimeerkat vroeër vandeesmaand positief vir dié siekte getoets het.
Dr. Didi Claassen, ‘n staatsveearts by die departement se laboratorium in Bloemfontein, wat ook die verteenwoordiger vir hondsdolheid in die provinsie is, sê twee honde in Ficksburg het onlangs positief getoets. Daarmee saam het 11 mense behandeling ontvang nadat hulle aan dié siekte blootgestel is. Sy sê nog geen mense is vanjaar dood aan hondsdolheid in die provinsie nie. Die departement het vandag (Vrydag) nog ‘n inentingsveldtog teen hondsdolheid in die Pieter Swarts-woonbuurt in Bloemfontein.
Dié veldtog vind plaas ter viering van die internasionale Hondsdolheidsdag wat jaarliks oor die wêreld heen op 28 September plaasvind. Claassen sê die feit dat honde positief getoets het, is nie goeie nuus nie, omdat dié siekte in die Vrystaat tradisioneel meer onder katte voorkom, soos in die Bloemfontein-geval. Dít teenoor ‘n provinsie soos KwaZulu-Natal waar dit meer onder honde voorkom. Sy sê as dié siekte onder honde voorkom, versprei dit vinniger en mense word meer daaraan blootgestel.
OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Claassen gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Dit was dr. Didi Claassen, ‘n staatsveearts van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat. Skakel Maandagoggend in op Before Dawn tussen 05:00 en 06:00 wanneer OFM-nuus se Christal-Lize Muller verder met Claassen praat oor die inentingsveldtog in Ficksburg.
OFM-nuus
