Agri Hour
NW-polisie: Boere moet paraat wees wanneer hulle handel op plase dryf─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:47 Wed, 27 Nov 2019
Die polisie in Noordwes soek steeds na drie mans en twee vroue in verband met die moord op ‘n 67-jarige boer, Schalk van der Merwe, op sy plaas naby Wolmaransstad.
Van der Merwe se vrou, Lettie, is tydens dié aanval erg aangerand en word steeds in ‘n nabygeleë hospitaal behandel. Haar toestand is stabiel. Polisiewoordvoerder Adele Myburgh, sê drie vuurwapens en 'n onbekende bedrag geld word vermis. Sy sê dié groep aanvallers het Sondag omstreeks 17:30 op die egpaar se plaas, Leeufontein, aangekom om skape te koop. Van der Merwe is met ‘n skerp voorwerp in die skaapkraal vermoor, terwyl Lettie in die huis gedwing is en met ‘n vuurwapen aangehou en aangerand is. Sy is gedwing om die kluis oop te sluit.
OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Myburg gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Myburgh doen ook ‘n beroep op boere om ten alle tye paraat te wees, maar dit is veral nou noodsaaklik met die Kersseisoen wat begin. Sy sê meer mense gaan nou lewende hawe en ander produkte by boere op hul plase aankoop, en boere moet juis dan op hul hoede wees. Geld moet nie op plase gehou word nie, veiligheidsheinings moet nagegaan word en boere moet goeie verhoudinge met hul plaaslike buurtwagte asook hul plaaswerkers hê.
Luister weeksdae van 05:00 tot 06:00 na Gerben van Niekerk op Before Dawn. Skakel weeksdae om 11:00 en 13:30 in op OFM vir jou landbounuusbulletins. Om na insetsels te luister gaan na www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en Before Dawn. Bel vir Christal-Lize Muller met jou landbounuus by (051) 5050-953 of stuur vir haar ‘n e-pos na cmuller@centralmediagroup.co.za.
OFM-nuus
