Agri Hour
Mielieprodusente oorskry alle verwagtinge─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:42 Thu, 28 Nov 2019
Die Nasionale Oesskattingskomitee, NOK, het vandeesweek sy finale produksieskatting vir somergewasse vir die 2019-seisoen bekendgemaak met die kommersiële mielie-oes wat op 11,258 miljoen gestel is.
Dié skatting is 0,64% of 71 800 ton meer as die vorige skatting van 11,186 miljoen ton. Die produksieskatting vir witmielies is onveranderd gelaat, terwyl geelmielies se produksieskatting opwaarts aangepas is teenoor die vorige skatting. Luan van der Walt, ‘n landbou-ekonoom van Graan SA, (GSA) sê die aanpassing van die geelmielie-oes is positief en dit wil voorkom of die totale mielieverbruik in Suid-Afrika dié seisoen ‘n nuwe record gaan behaal. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Volgens hom is die finale oesskatting vir mielies vir 2019 aansienlik aansienlik beter as wat aanvanklik verwag is, omdat daar aan die begin van die seisoen laat aanplantings in die westelike produksiegebiede was weens laat reëns. Hy sê dit is ‘n pluimpie vir Suid-Afrikaanse produsente wat daarin geslaaag het om in uitdagende produksietoestande alle verwagtinge te oortref. Dit is vir hulle ‘n klop op die skouer om steeds voedselsekerheid in die land te bewerkstellig.
Van der Walt sê nuwe aanplantings vir die 2020-seisoen het sover uitdagings gehad met produsente in die oostelike produksiegebiede wat laat begin het met hul mielie-aanplantings omdat dit laat gereën het. In die westelike produksiegebiede wat die westelike deel van die Vrystaat en Noordwes insluit, is daar produsente wat al met aanplantings kon begin. Die optimale plantvenster vir dié gebiede begin normaalweg op 15 November. Daar is egter in dié gebiede nog nie op ‘n groot skaal begin met aanplantings nie, omdat dit nog nie goed gereën het nie. Die ondergrondse vog is egter weens laat reëns vroeër dié seisoen gunstig vir produsente wat nou slegs wag vir meer reën om hul bogrondse vog aan te vul. Hy sê daarmee saam is daar boere wat van hul landerye laat oorlê het en somergewasse kan plant sodra hulle goeie reën kry.
OFM-nuus
