Agri Hour
NOK: Ongunstige weerstoestande beïnvloed verwagte kommersiële koring-oes─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:25 Fri, 29 Nov 2019
Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vierde verwagte produksieskatting vir Suid-Afrika se kommersiële koring-oes in die 2019-seisoen is afwaarts aangepas.
Die verwagte produksie vir koring is 1,618 miljoen ton, wat 4,54% minder is as die vorige skatting van 1,69 miljoen ton. Die NOK se verwagte opbrengs vir koring is 3 ton per hektaar. Daarmee saam is die verwagte produksie in die Wes-Kaap meer as 660 000 ton en in die Vrystaat meer as 371 000 ton. In die Noord-Kaap is die verwagte produksie meer as 273 000 ton per hektaar. Luan van der Walt, landbou-ekonoom by Graan SA (GSA), sê die skatting vir koring het aanvanklik aan die begin van die seisoen goed daarna uitgesien, veral in die Wes-Kaap en die Vrystaat. Ongunstige weerstoestande het egter intussen bygedra tot die verswakking in produksiepotensiaal…
OFM-Nuus se Christal-Lize Muller het met Van der Walt gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê in September, wat ‘n belangrike tydperk is vir produsente in die Wes-Kaap se koringseisoen, was dit baie droog en hoë temperature het ‘n rol gespeel. Die stroopproses in die Wes-Kaap is voltooi, maar in die Vrystaat het produsente reeds begin stroop. Volgens Van der Walt gaan die afwaartse aanpassing van die kommersiële koring-oes nie die plaaslike koringverbruik noemenswaardig beïnvloed nie omdat Suid-Afrika 50% van die koring wat plaaslik verbruik word, invoer.
OFM-nuus
