Agri Hour
Vleismerino’s van oor SA heen pronk op nasionale skou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:24 Mon, 16 Mar 2020
Die SA Vleismerino-genootskap se 40ste nasionale kampioenskapskou vind vandeesweek in Bloemfontein plaas.
Jan Vosloo, bestuurder van dié genootskap, sê daar is vanjaar goeie inskrywings, bo verwagting, weens die onsekerheid wat daar was oor die tydelike nasionale moratorium op die samekoms van spleethoewige diere vanaf twee en meer bronne na ander bronne weens die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo. Hy sê daar was onsekerheid oor of dié nasionale kampioenskapskou wel gaan plaasvind nadat veilings van lewende hawe asook die tentoonstelling van dié diere verbied is. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat…
Sien onderstaande PODCAST
Altesaam 29-stoeterye van regoor die land het 400 ramme ingeskryf. Daarvan is 145 senior-ramme onder 12 tot 24 maande. Daar is 255 ramlammers ingeskryf. Daar word al die afgelope drie jaar nie met ooie geskou nie, omdat dié diere op plase moet bly om te produseer, terwyl hul ramlammers eerder ten toon gestel word.
Hy sê met die uitbreking van bek-en-klouseer en die nasionale moratorium is biosekuriteitsmaatreëls opgeskerp, veral ten opsigte van geleenthede soos die Bloemskou waar diere vertoon word. Dit is ook van toepassing op die SA Vleismerino-genootskap se kampioenskapskou en die nodige maatreëls is gevolg, sê hy.
Dit behels basies dat 'n veearts diere gesond moet verklaar. Plase moet besoek word vir die doel. Veekrale moet ook besmet word om seker te maak daar is nie infeksies nie of siektes wat kan uitbreek nie.
Vosloo sê dié kampioenskapskou is belangrik omdat dit telers byeenbring en die geleentheid bied om teelwaardes te vergelyk en om nuwe genetika te bekom. Daar is ook ‘n ‘stilveiling’ waarop aanbiedinge gemaak kan word aan eienaars van ramme. Diere word vandag (Dinsdag) ontvang, geweeg en verdeel in hul onderskeie klasse, waarna hulle geskeer word. Dinsdag en Woensdag vind die kampioenskapskou plaas. Wolbeoordeling word Dinsdag tydens die eerste vier klasse gedoen waaruit 'n wolkampioen aangewys sal word.
Vosloo nooi belangstellendes uit om dié kampioenskap by die Bloemfontein Skougronde by te woon. Toegang is gratis.
OFM-nuus
