Agri Hour
Kommersiële wildboerderye 'klassifiseer eerder as landbou'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:41 Tue, 28 Apr 2020
Wildboerdery, as 'n kommersiële entiteit, kan in talle gevalle nie volgens regulasies en wette deur die departement van omgewingsake funksioneer nie. In die kommersiële wildbedryf maak boere juis van landbougrond gebruik om op te boer.
Met hul hooffokus op kommersiële bedrywe sal dit meer doeltreffend wees as dié boerderye onder landbou geklassifiseer word. Dit is volgens Wiaan van der Linde, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA, wat meen dit is 'n kwessie van belang in die bedryf en dit moet in perspektief gesien word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat oor die EMS-stigting se onlangse versoek aan verskeie Suid-Afrikaanse regeringsdepartemente dat 'n moratorium geplaas moet word op die verbruik van wildsvleis in Suid-Afrika in die lig van die Covid-19-pandemie. Dié stigting voer glo aan die pandemie kom vanaf wilde diere...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die regulasies en wette wat deur die departement van omgewingsake daargestel word en vir die wildbedryf geld, is belangrik ten opsigte van die beskerming van biodiversiteit. Dit is volgens hom 'n belangrike bewaringsuitgangspunt om wildlewe in Suid-Afrika te behou en dié regulasie moet streng toegepas word veral deur nasionale parke. Hy meen as dit by wildboerderye kom, val die klem op die kommersiële sy van dié boerderye.
Hy meen wildboere meen hul boerderye val veel eerder onder die landboukomponent as wat dit onder omgewingsake klassifiseer en al is daar in talle opsigte teenkanting daarteen, het niks nog verander nie en kruisteling of diere se gene sal nie geraak word nie. Daarvoor het elke spesie spesifieke wetgewing in plek wat dié praktyke nie sal toelaat nie.
Van der Linde meen hy sal nie verbaas wees as die regering nie aan die EMS-stigting se versoeke voldoen nie. Dié stigting se feite is "verdraai" en die regering se fokus moet nou in dié krisistyd op die Covid-19-pandemie wees eerder as om 'n groot bedryf in die land te wil benadeel.
Dit kom nadat wilbedryf SA die EMS-stigting se versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering verwerp het. Dié stigting het onlangs prokureursbriewe aan betrokke regeringsdepartemente gerig en Van der Linde meen dié versoeke is ongegrond.
Die EMS-stigting is na Elizabeth Margaret Steyn vernoem en is in 2014 gestig. Dit fokus nie slegs op wilde diere se welsyn nie, maar ook op die belange van ouer mense, kinders en kwesbare groepe, plaaslik en in Afrika.
OFM-nuus
