Agri Hour
Verbruiksjag dra jaarliks R8 miljard by tot SA ekonomie─── CHRISTAL-LIZE MULLER 00:18 Mon, 04 May 2020
Die jagbedryf beklemtoon opnuut die belangrike bydrae wat plaaslike verbruiksjag tot die Suid-Afrikaanse ekonomie lewer.
Dit kom nadat die Jagters- en Wildbewaringsvereniging die regering se aankondiging verwelkom het dat daar tydens vlak-4 van die nasionale Covid-inperking met die jag van wild voortgegaan kan word. Fred Camphor, uitvoerende hoof, sê dié nodige protokol rakende die jag van wild wat nou tydens dié vlak van inperking kan geskied, moet nou egter in plek gestel word. Daar is steeds grys gebiede en onduidelikhede oor hoe dit in die praktyk gaan geskied. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat....
Sien onderstaande PODCAST
Camphor sê verbruiksjag sluit nie slegs die jag van wild vir biltong en droëwors in nie, maar wild word gejag vir die verbruik van vleis as 'n proteïen. Tussen 200 000 en 300 000 jagters is jaarliks betrokke en die somtotaal van verbruiksjag tot die Suid-Afrikaanse ekonomie is jaarliks R8 miljard. Sodra dié vertakking van die jagbedryf gestop word, het dit 'n reuse-impak op die ekonomie.
Daarmee saam sê hy boere wat gewasse aanplant, asook veeboere, se boerdery het in sommige gevalle 'n veevertakking en dieselfde boere het die afgelope vier tot nege jaar swaar onder droogte gebuk gegaan. Dit het egter goed gereën in gebiede en dié boere het ná die voortslepende droogte nou 'n gulde geleentheid om 'n inkomste te genereer uit hul wildvertakkings. Die Covid-19-pandemie het egter op 'n slegte tyd gekom en weerhou die boere nou van die geleentheid om geld te verdien. Die jag van wild vind ook plaas in armer en ariede streke waar dit vir arm gemeenskappe werksgeleenthede skep, daarom is dit van groot belang dat die regering die jagbedryf nou weer oopgestel het.
OFM-nuus
