Agri Hour
Risiko vir veldbrande in VS is groot dié brandseisoen─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:00 Mon, 15 Jun 2020
Grasbrande hou dié brandseisoen 'n groot gevaar vir die Vrystaat in.
Dit is weens die veld se lading wat hoog is. Weiding en grasveld is ook welig. Daarmee saam wil dit voorkom of die brandseisoen ook reeds aangebreek het in die Vrystaat. Dit nadat verskeie van dié brande verlede week met die kouefront, wat vanaf die Kaap oor die binneland inbeweeg het, gewoed het. Johann Breytenbach, die algemene bestuurder van die sambreelliggaam vir brandverenigings in die Vrystaat, sê hierdie weerstoestande gaan gepaard met sterk wind wat dit moeilik en gevaarlik maak om grasbrande te blus. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Breytenbach gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy meen die Vrystaat het 'n eenvormige brandstoflading (fuel model) wat van toepassing is. Dit beteken die digtheid van veld wissel van plek tot plek, maar mense besef dit nie. Grasbrande is internasionaal welbekend daarvoor dat dit van die gevaarlikste brande is om by te woon en om in bedwang te bring.
Op internasionale vlak is dit ook al getoon dat daar meer sterftes en beserings is wanneer dié brande woed, omdat die spesifieke brandstoflading, "fyn brandstof", geweldig vinnig brand en ook vinnig 'n hoë intensiteit bereik, sê Breytenbach.
Mense wat betrokke is by die bestryding van dié brande bevind hulself ook gou in moeilike situasies, omdat dié brande vinnig kan draai en in 'n ander rigting kan woed.
Hy sê wanneer mense met veldbrande te doen het, moet hulle verstaan dat dit uiters gevaarlik is.
Dit hou 'n hoë risiko in ten opsigte van die veldbrandbestuur en die blus daarvan. In die Vrystaat is dié tipe brandbare materiaalladings hoog, wat 'n groot potensiële risiko inhou, en dit is 'n bron van kommer, sê hy.
Daarom moet boere en grondeienaars goed voorbereid wees vir 'n baie lang tydperk, omdat daar vir lank nie sulke tipe brande in die Vrystaat was nie. "Mense het vergeet hoe die Vrystaat kan brand as dinge skeefloop."
Hy maan boere wat brande op hul plase bestry om nie te vergeet dat die uitbreek van brande 'n emosionele situasie is, maar wanneer daar 'n brand uitbreek en hulle wil vinnig optree om dit te bestry, moet hulle egter kophou. Dit bly grondeienaars se verantwoordelikheid om veilige brandbestuur toe te pas soos deur die Wet op Veld- en Bosbrande bepaal word. Mense vergeet om onder meer beskermde kleredrag aan te trek en om materiaal wat hoogs vlambaar is te vermy.
OFM-nuus
