On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:34 Thu, 25 Jun 2020

 Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST


Laubscher sê dit is verblydend dat regerings besef die voorkoming en bestuur van die Covid-19-pandemie is maar slegs deel van ‘n hele proses. Namate daar meer ag geslaan word op die werklike waarde van modellering van moontlike uitkomste van die verloop van die pandemie, omdat nuwe data nuwe oplossings genereer, word regerings meer vatbaar vir meer risikoneming. Dit is al hoe duideliker dat die beleid ná die pandemie ‘n anderse uitwerking het op diegene wat belas gaan wees met die heropbou van die land.

Hy sê vroeë aanduidings is dat, te midde van betekenisvolle inkrimping van die ekonomie met ongekende omvang, die goeie vertoning van die landboubedryf ‘n buitengewone anker is. ‘n Byna rekord-somergraanoes slaan nie net die voedselonsekere spook dood nie, maar is doeltreffend invoervervangend te midde van ‘n baie weerbare wisselkoers. Die bedryf voorsien ook kos oor grense heen.   

Volgens hom gee dieselfde swakker geldeenheid die uitvoer van vrugte die nodige stukrag en verminder die afhanklikheid van die staat vir hulp. Trouens, enige hulp van die regering sal die nodige hefboom gee vir bedrywe wat bedrewe was in die regte kanalisering van uitvoer en binnelandse vraagvoldoening. Daar is dus goeie gronde vir van die ekonomiese vooruitsigte van ‘n verstadiging van die bestaande en verwagte ressessionêre ekonomie. Daar word op grond van positiewe verwikkelinge ‘n sterk saak uitgemaak ten gunste van moontlike "skerp V-vormige" herstel, selfs voor die einde van 2020. 

Laubscher meen boere sal egter verstaan dat vir die ratkas om ná herstel weer te kan werk, daar nuwe olie benodig word. Die vraag wat egter nou moet bykom, is of en in watter vermoë so ‘n ratkas nog werklik nodig is.  Dit is wanneer ‘n zero-basis benadering moet inskop.

Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, slegs op die Agri-Uur. Om weer na dié insetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en die Agri-Hour. Skakel ook weeksdae in om 11:00 en 13:30 vir jou landbounuusbulletins, slegs op OFM. 


OFM-nuus



Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.