Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Thu, 09 Jul 2020
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Laubscher praat oor die rol van etikette op produkte om verbruikers te bemagtig.
Hy sê voedselsekuriteit het te doen met voldoende, veilige en bekostigbare kos wanneer en waar die verbruiker dit benodig. 'n Komplekse netwerk van aktiwiteite – waardekettings – verpraktiseer dié mikpunt. Die Covid-19-pandemie het landbou waardekettings tot die uiterste beproef, maar die feit dat daar voortdurend kos op verbruikers se tafels was, spreek boekdele.
Laubscher sê die onvermoë van massas verbruikers is ook opvallend, wat nie sonder staatshulp en/of ruim donasies kos kon benut nie, .
Volgens hom speel betroubare inlingtingsvloei oor 'n produk 'n belangrike rol in die verbruiker se besluite oor welke produk hy koop en hoeveel daarvan gekoop word. Wetgewing bepaal die minimum-standaarde waaraan voldoen moet word, maar vir ‘n kieskeurige verbruiker met geld in die hand, word meer verwag. In dié opsig word tegnologie ingespan en kunsmatige intelligensie het dermate gevorder tot so 'n mate dat die verbruiker se besluite vooruit geloop word. Dit is nou reeds moontlik om inligting te kry vanaf groot kettingwinkels oor spesiale aanbiedings wat verbruikers se sak pas op grond van historiese aankooppatrone. Yskaste word selfs intelligent vervaardag dat verbruik op grond van “beste voor...” gereël word met toegang vir die verskaffer om die produkte wat verby daardie datum is, te verwyder.
Hy sê die pandemie het die vraag na aanlynaankope so gestimuleer dat daar nou nuwe riglyne en standaarde van toepassing moet wees. Die sleutel tot hierdie nuwe bedeling, naamlik die etiket op die produk, is van belang. Alles wat die verbruiker moet weet, moet daarvan afgelei kan word.
Met die inkomsteprofiel van verbruikers wat met die Covid-19-pandemie verander het, sal bedrywe die leiding moet neem om verbruikers se besluitneming te probeer rig om meer faktore as die prys alleenlik met aankope te oorweeg. Dit is nou noodsaaklik dat die waarde van doeltreffende naspeurbaarheidstelsels binne waardekettings se bydrae tot die skep van vertroue vanuit ‘n verbruikersperspektief 'n instelling word.
OFM-nuus
