Agri Hour
DA diep bekommerd oor NK-landboubegroting─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Mon, 20 Jul 2020
Die DA in die Noord-Kaap is diep bekommerd oor die begroting wat die LUR van landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling en natuurbewaring, Mase Manopole, gelewer het.
Reinette Liebenberg, DA provinsiale woordvoerder vir landbou, sê daarmee saam sal daar heel waarskynlik nog aanpassings volg aan dié begroting van R559 miljoen ná die Covid-19-aanpassingsbegroting. Sy sê 'n groot bron van kommer is die departement se uitrol van droogtehulp, wat onsekerheid by boere geskep het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Liebenberg gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Daar is vroeër vanjaar R36 miljoen se hulp aan die Noord-Kaap toegeken maar die proses het gesloer. Sy sê daar is kommer oor die departement se swak rekord met betrekking tot die neem van besluite en onbeantwoorde vrae. Dit het daartoe gelei dat boere nog nie 'n sent gesien het nie van R36 miljoen se droogtehulp wat in Maart vanjaar deur die regering geoormerk is vir boere in dié provinsie. Boere het nog nie die uitrol van die hulp gesien nie en as 'n mens kyk na die begroting wat verlaag word en die uitrolproses van droogtehulp, is daar nie sekerheid onder boere of hulle hulp van die regering gaan ontvang nie.
Sy sê die departement se nuutste navorsing toon dat R422 miljoen benodig word om die volhoubaarheid van die droogtegebiede te huisves. Daarmee saam is die R36 miljoen se droogtehulp ook nog nie uitgerol nie.
Die nasionale landboudepartement se Covid-19-hulp is ook slegs aan 16% van al die boere wat aansoek gedoen het, beskikbaar gestel. Liebenberg sê die DA sukkel steeds om redes te ontvang van die departement in die provinsie, asook op nasionale vlak, oor die rede waarom sekere aansoekers onsuksesvol was om vir dié hulp te kwalifiseer. Regstellings word nou versoek en antwoorde by minister Thoko Didiza te kry oor die hulp wat sy beloof het deur middel van ander insette wat aan boere beskikbaar gestel gaan word.
Daar is verder kommer oor die vermindering van aanwysers met die hulp van kleinboere. Gedurige befondsing van entiteite is ook kommerwekkend. Liebenberg verwys na 'n bokprojek in die Noord-Kaap, wat in 'n bestek van 19 jaar nog nie selfonderhoudend kan wees nie. Sy vra die vraag of dit nie tyd is om dié geld eerder beskikbaar te stel aan nuwe opkomende boere sodat hulle groot kommersiële boere word nie.
Sy verwys ook na 'n rooibosteefabriek in Niewoudsville wat R160 miljoen se beleggings vanaf die regering ontvang het, maar daar is rede tot kommer weens produsente wat tee aan dié fabriek gelewer het, maar steeds wag vir 'n jaar gelede se lewering, terwyl die tee in pakhuise beskikbaar is. Dit wil voorkom asof daar nie kopers daarvoor is nie.
OFM-nuus
