Agri Hour
TLU SA se statistieke oor moorde, plaasaanvalle verskil─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:32 Wed, 05 Aug 2020
TLU SA se statistieke oor aanvalle en moorde op plase en kleinhoewes in Suid-Afrika verskil van die polisie se statistieke wat verlede week deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekend gestel is.
Henry Geldenhuys, adjunk-president van dié organisasie, sê hulle statitsieke word op 'n jaar-tot-jaar grondslag ingesamel. Daarmee saam word hul betroubare statistieke, wat ook aan die polisie se kriteria voldoen, per boekjaar soos die polisie se statistieke ingesamel. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Geldenhuys daaroor gepraat, asook oor die organisasie se virtuele optog teen plaasmoorde...
Sien onderstaande PODCAST
As die polisie se statistieke vergelyk word met dié van TLU SA, is daar verskille. Volgens die polisie se statistieke was daar 46 aanvalle tussen 1 April 2019 en 31 Maart vanjaar. Die polisie se statistieke toon ook daar was 49 moorde in die 2019/20-boekjaar. Hy sê volgens TLU SA was daar 410 aanvalle en 54 moorde in dieselfde tydperk. Geldenhuys sê TLU SA se statistieke is betroubaar en die polisie sal in 'n stadium antwoorde oor die verskil in die statistieke moet verskaf. Daarmee saam raak politieke partye ook nou betrokke en bevraagteken die polisie se statistieke.
Geldenhuys sê ten opsigte van die polisie se reservistestelsel, wat deel is van sy hersiende nasionale landelike beveiligingsstrategie, het daar oor die jare heen nie veel verwikkelinge plaasgevind nie. Dié strategie kom nie van die grond af nie. Die "afgestofde plan" is verlede jaar met groot vaart in Limpopo bekend gestel. maar dit word steeds nie op grondvlak ingestel nie. Daarmee saam word daar al vir jare gesloer met die reservistestelsel en intussen het die getal reserviste 'n afname van 50 000 na 10 000 getoon, terwyl die polisie al lankal van boere as reserviste gebruik moes maak as "magsvermenigvuldigers" om in te span om die polisie te ondersteun in terme van die misdaadkwessie wat nou in Suid-Afrika hand uitruk.
Geldenhuys sê die 60 moorde wat daagliks in Suid-Afrika gepleeg word, is 'n duidelike aanduiding dat misdaad in die land buite beheer is. "Ons sê gebruik ons boere, want daar is tog plaaswagte. So, gebruik die mense om te help met misdaadbekamping." Dit is wel nie hulle werk nie, maar daar sou nie plaaswagte gewees het as die regering van die dag die verantwoordelikheid vir landelike veiligheid geneem het nie, sê Geldenhuys.
OFM-nuus
