On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Agri-Fokus: Die afgelope week se landbounuus-hoogtepunte op OFM

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 10:02 Fri, 07 Aug 2020

Agri-Fokus: Die afgelope week se landbounuus-hoogtepunte op OFM  | News Article

In dié Agri-Fokus-insetsel vat OFM-nuus se Christal-Lize Muller die week se hoofstories in die Agri-Nuusbulletins weeksdae om 11:00 en 13:30 saam.


Sien onderstaande PODCAST


Meer as 3000 mense het reeds vir TLU SA se virtuele optog teen plaasmoorde geregistreer, maar nog meer mense word aangemoedig om daaraan deel te neem. Henry Geldenhuys, adjunk-president van dié organisasie, sê daar is nog tyd om daarvoor te registreer. Dié inisiatief,  wat volgende Vrydag aanlyn plaasvind, het ten doel om druk op die regering te plaas sodat daar nou daad-werklik teen dié misdrywe opgetree kan word. Daar gaan ook tydens dié virtuele staptog 'n geleentheid wees vir mense om te reageer en kommentaar te lewer oor dié tragiese kwessie in die land. Buitelanders se deelname word ook aangemoedig. Geldenhuys sê dié organisasie besef dat 'n veldtog of protesoptog van dié aard nie misdaad in Suid-Afrika kan stop nie, maar dit is belangrik om bewusmaking daarvan te kweek. Hy sê dié virtuele protesoptog teen aanvalle op plase en kleinhoewes is 'n ideale platform vir alle Suid-Afrikaners om hul stem te laat hoor.  Besoek tlu.co.za vir meer inligting en om te registreer.

In nog 'n nuusstorie is Agri SA se R1 miljard voedselinisiatief om honger gemeenskappe te voed  in volle swang. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê die projek bou momentum en gemeenskappe wat geraak word deur die Covid-19-pandemie se negatiewe ekonomiese gevolge, asook gemeenskappe wat deur die droogte geteister word, baat hierby. Agri SA het onlangs 'n beroep gedoen op die regering asook die private sektor om by te dra tot dié inisiatief, want daar is 'n groot behoefte aan hulp om te oorleef. Jansen sê die afgelope twee maande het boere van Suid-Afrika meer as 900 ton se varsprodukte geskenk aan Food Forward Suid-Afrika, vir die verspreiding daarvan regoor die land. Dit vorm deel van die R1 miljard-voedselinisiatief om die plaaslike kosnood, wat ontstaan het weens die Covid-19-pandemie, se ekonomiese gevolge aan te spreek. Jansen sê die goeie nuus is dat droogte-geteisterde gebiede ook daarby baat. 

Jansen sê kritieke vennootskappe met betrokkenes verskaf aan Agri SA toegang in die waardeketting en dit sal massiewe tasbare waarde ontsluit vir dié organisasies se Second Harvest-programme deurdat produkte wat na hoë-risiko gemeenskappe versprei word, se voedingswaarde verhoog word. 

Intussen is die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, nog kliphard aan die werk om hulp aan landbougemeenskappe in provinsies soos die Noord- en Oos-Kaap te verleen. Chris van Beljon, stigter van dié maatskappy, sê daar is steeds gedeeltes in dié provinsies wat bitter min en selfs geen reën gehad het nie.

Van Beljon sê dit gaan egter broekskeur ten opsigte van skenkings deur gemeenskappe en dit is te verstane, en weens die impak van die Covid-19-pandemie op mense se geldelike situasie. 'n Derde van dié organisasie se maandelikse inkomste wat verkry is deur middel van skenkings deur weldoeners, vind nie meer plaas nie. Van Beljon sê dié maatskappy  wat onlangs geoudit is en wat se finansiële state beskikbaar is vir diegene wat dit wil sien, gaan egter nie stilstaan en ophou hulp verleen nie. Skenkings,  wat veevoer en selfs kos en ander noodsaaklike benodigdhede insluit, word steeds aan gemeenskappe verskaf sonder dat hulle daarvoor moet betaal. 

OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry. Skenkings kan ook gedoen word.  Skakels van organisasies, soos Boere Droogtehulp SA,  Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.


OFM-nuus



Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.