Agri Hour
RPO wag om te hoor of Botswana invoerverbod ophef─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Wed, 12 Aug 2020
Die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, stel ondersoek in oor 'n inligtingstuk wat versprei word rakende die departement van landbou in Botswana se opheffing van die verbod op die invoer van gesplete hoefdiere vanaf Suid-Afrika.
Die RPO se uitvoerende hoof, Gerhard Schutte, sê dié organisasie kan in dié stadium nie bevestig of dit wel die geval is nie. OFM-nuus wag ook nog op terugvoer vanaf die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling rondom dit. Daarmee saam het OFM-nuus se Christal-Lize Muller by Schutte uitgevind oor die jongste situasie rondom bek-en-klouseer in Limpopo en die prys van lewende hawe wat goed is te midde van die Covid-19-pandemie.
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dit is vir die rooivleisbedryf bemoedigend dat die produsenteprys van lewende hawe te midde van dié pandemie die afgelope paar weke 'n toename toon. Dit gaan volgens hom in dié stadium goed in dié bedryf. Die prys van lammers vir produsente is hoog en is sowat 13% hoër op 'n jaar-tot-jaar grondslag teenoor die prys verlede jaar. Hy meen dit is 'n geskiedkundige hoogtepunt vir die land. Daarmee saam vergelyk die prys van beeste tans dieselfde teenoor verlede jaar se prys tydens dieselfde tydperk. Die prys van speenkalwers is egter bemoedigend en met 'n goeie mielieoes in die pyplyn, is daar groot optimisme oor die rooivleisbedryf in die land met uitvoer wat steeds geskied.
Hy sê die goeie prys wat produsente behaal vir hul diere kan onder meer toegeskryf word aan verbruikers se verbeterde kontantvloei weens die feit dat baie mense nou van die huis af werk en kostes bespaar, veral ten opsigte van vervoer. Daarmee saam is daar 'n goeie persepsie van rooivleis wat ook bydra tot 'n toename in die vraag daarna. Schutte sê die bek-en-klouseer situasie in Limpopo is ook onder beheer en bedrywighede op die 19 eiendomme waarop dié virussiekte uitgebreek het, gaan weer voort. Beheerde slagtings is reeds gedoen en daar word op dié betrokke eiendomme reeds voortgegaan met bedrywighede.
OFM-nuus
