Agri Hour
Cape Wools SA wolmarkverslag: Mark daal plaaslik─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:50 Fri, 21 Aug 2020
Soos oudergewoonte op 'n Vrydag, verskaf ons die weeklikse nasionale wolmarkverslag wat deur Cape Wools SA aan OFM-nuus beskikbaar gestel word.
Altesaam 7 578 bale is vandeesweek op die tweede veiling van die seisoen aangebied. Luidens dié verslag is 1 179 bale voor die veiling onttrek met 'n algehele verkoopspersentasie van 92,21% van die bale wat aangebied is. Naverkope het bygedra dat die algehele verkoopspersentasie verhoog het. Die Australiese mark het vandeesweek met 5,9% gedaal met 'n groter persentasie onverkoopte wol. Daarteenoor het die plaaslike mark beter vertoon, met 'n daling van 4,1% met in agneming van die Rand wat met 1,1% teenoor die Amerikaanse Dollar versterk het. Dit het aanleiding gegee tot 'n verswakking van 3,1% van die plaaslike mark in terme van die Amerikaanse Dollar.
Die meerderheid van die plaaslike aanbod het uit fyn wol bestaan, wat goeie mededinging ontlok het en die algehele verkoopspersentasie verhoog het. Kruisraswol en wol met 'n hoë saadinhoud weens die goeie reënval, is verdiskonteer.
Goeie gehalte merinowol, en veral gesertifiseerde wol, het basies onveranderd gesluit teenoor verlede week.
Die grootste kopers op die veiling was: Standard Wool SA, Lempriere SA , Stucken & Co en Modiano SA.
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18,0 mikron tipes daal met 1,7% en sluit teen R160,65 per kg, terwyl 18,5 mikron tipes met 4,8% afgeneem het en teen R144,89 per kg gesluit het. 19 mikron tipes het verlaag met 4,2% en teen R140,65 per kg gesluit. Daarmee saam het 19,5 mikron tipes met 4,7% verswak en teen R135,06 per kg gesluit.
20 mikron tipes het met 4,8% afgeneem en het op R133,34 per kg, gesluit, terwyl 20,5 mikron tipes met 6,8% verswak het en op R128,80 per kg gesluit het. 21,0 mikron tipes het met 4,2% verlangsaam en op R129,92 per kg gesluit, terwyl 21,5 mikron tipes met 6,8% afgeneem en op R129,14 per kg gesluit het. 22 mikron tipes het met 9,5% gedaal en op R125,50 per kg gesluit, terwyl, 22,5 mikron tipes met 10,3% verswak het en op R120,42 per kg gesluit het.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 2 September en sowat 10 191 bale sal na verwagting aangebied word.
OFM-nuus
