On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

#LandbouHoop: Middelpos-koekieprojek kry groot aftrek

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:14 Tue, 08 Sep 2020

#LandbouHoop: Middelpos-koekieprojek kry groot aftrek | News Article

'n Groep ywerige vroue van die Suidwes Roggeveld-landbouvereniging by Middelpos in die Noord-Kaap bak koekies dat dit bars.


Dit is deel van die  Hartklophoop-koekieprojek wat van stapel gestuur is om aan boere, wat swaartrek weens die voortslepende droogte,  se vroue die geleentheid te gee om 'n inkomste te verdien. Terselfdertyd word van die geld wat verdien word deur die koekieverkope in 'n fonds geplaas. Dit word weer aangewend om veevoer aan te koop of selfs geld vir veevoer aan boere te verskaf.  Gemeenskappe word ook gehelp daardeur met verskeie projekte wat befonds word.   

Estelle Steenkamp, wat aan stuur is van dié projek, sê hulle was verlede  jaar verbaas oor die positiewe reaksie van Suid-Afrikaners oor dié projek.  Die Covid-19-staat van inperking het egter 'n demper daarop geplaas maar die projek, is weer volstoom aan die gang en smullekker koekies word gebak en verkoop. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met haar gepraat... 


Sien onderstaande PODCAST


Steenkamp sê dit gaan nou uitstekend met hul projek. Altesaam agt vroue bak 'n groot verskeidenheid koekies tuis en kom weekliks byeen om die koekies saam te verpak. Daar is 18 vroue op die komitee wat gevorm is, maar nie almal kan bak nie. Die ander vroue is betrokke by ander projekte om geld in te samel vir droogtehulp.

Die vroue wat wel bak, ontvang geld volgens die hoeveelheid koekies wat hulle bak.  'n Sekere persentasie word ook aan dié projek se fonds afgestaan. Dit word dan gebruik om veevoer te koop vir die vroue se mans.  In sommige gevalle word van die boere se brandstof ook betaal. Sy sê van die geld in die fonds word ook aangewend vir projekte om kos aan mense in nood te voorsien. Hulle doen dit in dié stadium slegs vir mense in hul gebied, omdat hulle dit nie kan bekostig om hulp aan meer mense te verleen nie.  Van die geld wat verdien is met die koekieverkope, is daar vanjaar ook 'n droogtehulpfees gehou.  

Steenkamp sê die vroue het besluit om saam te staan en geld te verdien net om aan die gang te bly en te wys daar is hoop. Dit is vir Steenkamp, wat 'n apteker is, maar ook  die rol vervul as 'n boer se vrou, lekker om drome te skep.  Dit gaan vir haar en die ander vroue oor hulpverlening aan mense. 'n Mens raak nederig as jy sien hoe 'n  klein inisiatief soos dié projek 'n reuse-verskil maak aan 'n gesin wat niks het nie en staatmaak op 'n vrou se salaris deur die koekieverkope.  

Sy sê die groep vroue probeer saam 'n verskil maak en wil Middelpos op die kaart plaas. "Ons kan 'n verskil maak al is ons in die middel van nêrens."

Daar is groot dankbaarheid vir elke sent wat verdien word en daar heers  'n goeie gees onder die vroue wat betrokke is by dié projek.

Sy sê die droogtesituasie in dié gebied is steeds kritiek. Mense sien van die N7 af die uitwerking van die droogte in dié gebied, maar ry nooit in na die plase waar die prentjie veel erger is nie. Hulle het wel reën en sneeu gehad, maar dit maak nie 'n impak om die droogtetoestande te breek nie, want die droogte word slegs gebreek deur 'n vloed.  "Ons wag vir daardie vloed," sê sy. Intussen gaan hulle volstoom voort met die koekieprojek om hoop te bring terwyl hulle angstig wag op 'n uitkoms. 

Om emmers tuisgebakte koekies, 600 gram elk, te bestel besoek die Facebook-blad Hartklophoop. Die emmers kos R80 elk.

Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry. Skenkings kan ook gedoen word. 

Skakels van organisasies, soos die Hartklophoop-koekieprojek,  Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.