On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

#BrendinHorner: 'Vigilante optrede dra nie goedkeuring weg'

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:37 Wed, 07 Oct 2020

 #BrendinHorner: 'Vigilante optrede dra nie goedkeuring weg' | News Article

Vigilante optrede in Senekal, waar twee verdagtes in die plaaslike landdroshof verskyn het op 'n aanklag van die moord op die 21-jarige, Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van Paul Roux, dra nie die goedkeuring van die breë landbougemeenskap weg nie.


Jess de Klerk, 'n boer van die Paul Roux-distrik, sê 'n groep boere het hand uitgeruk nadat die verrigtinge buite die plaaslike landdroshof reeds afgesluit is. 

Na wat berig word, is skote afgevuur en 'n polisievangwa is deur mense omgekeer. Dié voertuig het ook gebrand. Intussen bly twee verdagtes, wat vlugtig in die hof verskyn het, in aanhouding. 

Horner se liggaam is Vrydag gekry op die plaas in dié distrik waar hy gewerk het. Hy het verskeie steekwonde, asook 'n kopwond gehad. Sy liggaam was met 'n tou aan 'n paal vasgebind in 'n stuk oop veld op die plaas. Die verdagtes, Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, sal na verwagting op 16 Oktober in die  landdroshof in Paul Roux verskyn. Le Roux sê hulle is baie tevrede met die verloop van die dag, ondanks dié voorval. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...       


Sien PODCAST aan die einde van die blad


De Klerk sê hy was deel van 'n groep boere wat betrokke geraak het by die koördinering van die verwagte massa mense wat aangedui het hulle gaan opruk na Senekal nadat boere van plaaslike landbou-organisasies op sosiale media gesien het dat daar 'n groot opkoms gaan wees. Daar is toe besluit dat al die betrokke landbou-organisasies byeen moet kom en 'n koördinerende rol moet speel, want sou mense in Senekal opdaag sonder 'n mate van koördinasie, sou dit in chaos ontaard het. Hy sê daar is goeie skakeling met die plaaslike polisie wat toe genader is deur dié groep boere.  

De Klerk sê hulle het 'n groot getal mense verwag, maar is steeds verbaas oor die goeie opkoms. Sy indrukke van dié dag, is dat dit duidelik is dat die landbougemeenskap genoeg gehad het. Dié boodskap is tydens die grootste gedeelte van die dag reg oorgedra. Volgens hom was die grootste gedeelte van die dag  'n sukses met mense wat hul boodskap duidelik met onder meer plakkate en baniere uitgebeeld het en in die algemeen is goeie terugvoer ontvang.

Hy sê dit is hartseer dat 'n klein groepe mense hand uitgeruk het, veral nadat die vreedsame verrigtinge afgesluit is. Daar is begrip daarvoor dat dit 'n moeilike situasie is met die bestaande woede onder mense.  

Die polisievoertuig wat omgekeer is deur 'n groep mense, het plaasgevind nadat dié einste voertuig na bewering mense wou raakry. Daarmee saam voer die polisie aan dat skote deur boere afgevuur is. Dit is onwaar, sê hy. 

Polisielede sélf het waarskuwingskote afgevuur en geen boere het op enigiemand geskiet nie. "Dit is betreurenswaardig dat dit gebeur het, en ons het dit probeer verhoed, maar ja." 

Daar is skade aangerig, maar die polisie het die situasie goed hanteer, hulle het beheersd opgetree en die situasie is suksesvol ontlont en almal is huis toe. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.