On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

#Plaasmoorde: Gereg moet sy verloop neem - Agri SA president

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:46 Mon, 12 Oct 2020

#Plaasmoorde: Gereg moet sy verloop neem - Agri SA president  | News Article
Pierre Vercueil FOTO: Agri SA

'n Groot taak rus op die skouers van Agri SA se nuutverkose president, Pierre Vercueil, 'n boer van Noordwes, wat op dié organisasie se virtuele kongres tot president verkies is.


Vercueil,  'n graan- en veeboer wat tussen Vryburg en Mahikeng boer, het sedert laat verlede jaar in dié posisie waargeneem toe Dan Kriek,  die voormalige president, bedank het. Vercueil sê die verantwoordelikheid wat op Agri SA rus, is nie eenvoudig nie, want verskeie belangegroepe is byeen om sekere doelwitte te bereik. Hy stel dit wel duidelik dat Agri SA hom steeds toespits op die belang van boere in die land. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien PODCAST aan die einde van die blad


Hy sê boere in Suid-Afrika is blootgestel aan 'n geweldskultuur, en die gevoel onder boere is hulle ontvang min ondersteuning. Hy meen dit is te verstane dat boere so voel. Vercueil sê landelike veiligheid is 'n polsende kwessie. Hy meen die aandag is veral nou daarop gevestig na gelang van die gebeure in Senekal, waar hordes mense van heinde en verre verlede Dinsdag byeen was toe twee verdagtes in die plaaslike landdroshof verskyn het in verband met die moord op 'n plaasbestuurder van Paul Roux, Brendin Horner.

'n Groep mense wat die samekoms bygewoon het, het egter hand uitgeruk en die hofgebou bestorm. 'n Polisievangwa is omgekeer en was later in ligte laaie. Skote en skokgranate is afgevuur. Vercueil sê emosies onder gemeenskappe, wat boere insluit, het verlede Dinsdag oorgekook rakende die kriminaliteit in die land wat nou op 'n onaanvaarbare vlak is. Hy sê daar is egter hoop dat die volgende hofverskyning van die twee Horner-moordverdagtes eerskomende Vrydag in die landdroshof in Paul Roux, nié hand sal uitruk nie. Die reg moet toegelaat word om sy verloop te neem.

Vercueil sê Suid-Afrika kan nie 'n staat word wat die wet in eie hande neem nie, en die landbougemeenskap moet sy bes probeer om sy kant skoon te hou. Dít is nodig om die bedryf in 'n beter posisie te plaas om te beding oor kwessies van belang. Hy sê daarom moet dié bedryf allermins nie lyk of gebeure by Senekal nie veroordeel word nie.

Skakel Dinsdagoggend in op die Agri-Uur wanneer Vercueil verder gesels oor die boodskap wat uitgestuur is op dié organisasie se virtuele jaarkongres wat verlede week plaasgevind het. 

Intussen sal die twee verdagtes, Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, eerskomende Vrydag in die landdroshof in Paul Roux in die Vrystaat verskyn in verband met die Brendin Horner-moord. Daarmee saam sal André Pienaar, 'n man wat glo die voortou geneem het tydens die gebeure in Senekal toe 'n groep mense die landdroshof se gebou bestorm het, na verwagting Dinsdag weet of hy op borgtog vrygelaat word. Pienaar het Vrydag in die landdroshof in Senekal verskyn en staan tereg op aanklagte van aanhitsing van geweld, openbare geweldpleging, poging tot moord en terrorisme.  


OFM-nuus




Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.