On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Sprinkaanswerms broei uit ná goeie reën - VIDEO

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 03 Dec 2020

Sprinkaanswerms broei uit ná goeie reën - VIDEO | News Article

‘n Video van ‘n swerm sprinkane wat in die rigting van Edenburg in die Vrystaat vlieg en byna soos ‘n stofwolk lyk, is deur Vrystaat Landbou (VL) op sosiale media geplaas.


Die organisasie se distriksprinkaanbeampte, Junior Jacobs, sê hierdie sprinkane broei gewoonlik uit ná reënval in droë gebiede. OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom hieroor gesels…


Sien onderstaande PODCAST


Jacobs sê die rede waarom ons tans soveel sprinkane sien, is as gevolg van die onlangse reën na lang droogtes wat veral in die Noord-Kaap ondervind is. Hy verduidelik dat sprinkane eiers lê tydens droogtes - maar dat die toestande nie geskik is om uit te broei nie. 

Hy voeg by dat sprinkaaneiers vir jare lank in veral sandgrond kan oorleef en sodra die ideale toestande voorkom, dan broei die eiers uit. "Daar is twee vereistes - vog en hitte - en as dít voorkom dan broei daai eiers uit. En dit het nou gebeur dat daar dele, wel van die Noord-Kaap soos ek gehoor het, reën gehad het, so dis hoekom hier nou geïsoleerde swerms sprinkane by ons voorkom," verduidelik Jacobs. Hy noem dat dit gewoonlik die bruinsprinkaan is wat hierdie swerms vorm.

Hy sê verder die sprinkane beweeg altyd van wes na oos. Daarmee saam voeg hy by hy neem aan dat die rede hiervoor is omdat daar gewoonlik in die ooste groener velde is in die rigting van Lesotho. Groot sprinkaanswerms hou 'n risiko in vir mielies en lusernlande. 

Hoe kan boere ontslae raak van swerms op hulle landerye? Jacobs sê die beste sal wees om hulle te spuit met spuitmiddels wat deur die plaaslike departement van landbou verskaf word. "Die beste is as 'n mens die sprinkane kan kry sodra hulle uitgebroei het - want kyk, hulle is mos eers voetgangers. Vir etlike dae kan hulle nog nie vlieg nie... So, as jy hulle dan kan opspoor dan kan 'n mens hulle spuit," voeg Jacobs by.

Hy sê sodra die sprinkane kan vlieg, moet hulle bewegings gemonitor word. Sprinkane is koudbloedig so sodra hulle gaan "sit" by sononder, dan kan hulle gespuit word tot die eerste sonstrale verskyn. 'n Ander opsie is om hulle op te jaag en so ontslae te raak van die sprinkane.

Verder is daar kort sprinkaankursusse wat boere kan bywoon. Jacobs sê dat daar reeds hierdie week kursusse plaasgevind het in Colesberg en Burgersdorp. Hy sê daar was in die verlede volledige sprinkaankursusse waar suksesvolle deelnemers sertifikate ontvang het en daarna geklassifiseer is as gekwalifiseerde sprinkaanspuiters. 

Intussen het Landbouweekblad onlangs berig dat dr. Gerhard Verdoorn, hoof van bedryfsake en rentmeesterskap van die chemikalieë-bedryfsliggaam CropLife SA, sê dat alhoewel groot swerms reeds aangemeld is, is die uitbreking nog nie so groot soos die uitbreking in 1986 nie. Hy glo die departement van landbou kan die huidige
swerms bekamp.




OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.