On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 07 Jan 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article
Foto: www.techspot.com

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Hier is Laubscher…

Sien onderstaande PODCAST

In hierdie week se insetsel praat Laubscher oor die 5G-netwerk. Laubscher sê hierdie nuwe benadering verhoog die vloei van inligting na 'n heel ander vlak.

"Aan die begin van ‘n nuwe jaar is dit noodsaaklik om met die ervaring van die afgelope jaar, vooruit te kyk om te kan werk aan ‘n nuwe bedeling. Ene CS Lewis het dit baie netjies raakgevat met die volgende: “You can’t go back and change the beginning, but you can start where you are and change the ending”. 2021 gaan beslis nog sy kwota onsekerheid oplewer, maar vir eers kan ons ten minste uitsien na ‘n nuwe jaar.

"Die onsekerheid wat die pandemie veroorsaak het, die tegnologie wat met die Vierde Industriële Revolusie (VIR) geassosieer word, veranderde handelspatrone internasionaal en plaaslik en politieke onbeholpenheid het mense behoorlik op hol. Dink vir ‘n oomblik na oor die uiteenlopende sienings ten opsigte van inenting teen Covid-19.  Dit lei tot sosiale spanning en het die uitdagings ten opsigte van ongelykheid weer onder die soeklig geplaas. Waaroor almal eens is, is dat daar ‘n akute behoefte is aan beter gesondheid, groter volhoubaarheid, meer inklusiewe ontwikkeling en ‘n hersiening van waaroor produktiwiteit eintlik gaan.

"Voor die pandemie sy beslag gekry het, was daar reeds ontwrigting as gevolg van die impak van die VIR. Die ontwrigting het volgens die WEF toegeneem te midde van Covid-19, maar het ondubbelsinnig gewys op die verandering ten opsigte van dienslewering. Die digitalisering van die wêreldekonomie het hier ter plaatse ook ingetree, maar behoorlike digitale bemagtiging strek baie verder as die vermoë om al hoe beter aanlyn-aankope te kan doen. Die WEF raam dat tot 70% van nuwe waarde wat geskep gaan word in die volgende dekade, met behulp van digitale platforms gaan wees. Ongelukkig is huidige digitale bemagtiging tans baie eksklusief met meer as die helfte van die wêreld se bevolking wat nie digitaal gekoppel is nie. Dit verhoog die risiko van verdere konsentrasie van ekonomiese mag, met ‘n redelike verwagting dat beleid ondersteuning dermate kan ontbreek dat gapings tussen wat is en wat nodig is.

"Dit is teen daardie agtergrond wat die nuutste tegnologie ten opsigte van internet koppeling en spoed - 5G - gesien moet word.  Baie lande is vervolgens reeds besig om die nodige infrastruktuur op te rig. Die WEF raam dat die implementering van 5G globaal tot soveel as 12 triljoen Amerikaanse Dollars kan bydra tot die ekonomie oor die volgende twee dekades, maar dat dit baie miljoene dollars se beleggings sal verg. Hiervoor sal ongekende samewerking nodig wees, maar die belofte van addisionele werkskepping is ‘n goeie geel wortel.

"Baie sal wonder of 5G nie maar net weer ‘n nuwe geldmaak aksie gaan wees vir bevoorregte lande nie. Trouens daar is reeds gevalle gerapporteer waar tradisionele leiers afwysend sou optree teenoor die oprigting van 5G-strukture as sou die virus dan deur middel van die nuwe torings versprei word. Wat egter belangrik is, is begrip vir wat dit beteken. Digitalisering sal ‘n nuwe wêreldorde komplementeer, noodsaaklike veranderings is afgedwing as gevolg van die pandemie. Om dit alles moontlik te maak, verg vinnige en baie data. ‘n Praktiese vergelyk sou wees om die paaie netwerke te gebruik. Vir baie lank kon die netwerk van snelweë – N1, N2, N3 en N4 - verkeer laat vloei en logistiek komplementeer. Nou is juis daardie snelweë onder druk en moet ander planne gemaak word soos die Gautrein, ens. Dieselfde het gebeur met internet-gekoppelde data-oordrag. Die vraag na data gaan net toeneem, soos wat bestuurderlose motors praktyk gaan word, hommeltuie mense en goedere sal vervoer, ens. Daar is selfs sprake van loodsvrye vliegtuie. Dié en ander tegnologiese ontwikkeling vereis ‘n ander vorm van data-verspreiding en 5G is die aangewese.

"Op plaasvlak sal dit ook ‘n omwenteling veroorsaak. Naspeurbaarheid, bevestiging van voedselveiligheid, voorkomende verpakking om vermorsing te beperk, ens sal aan die orde kom. Die pandemie het reeds veranderde verbruikspatrone tot gevolg gehad welke veranderings as blywend geakkommodeer moet word.  Kunsmatige intelligensie gaan verder strek as GPS-leiding met die bewerking van lande vir graanproduksie en die vermoë om byvoorbeeld plantsiektes te identifiseer aan die hand van ‘n foto en ‘n selfoon toepassing. Hierdie alles dui op nog ‘n skommelpad in 2021, maar met die belofte van meer positiewe uitkomste," sê Laubscher.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.