Agri Hour
Agri-Uur: Jongste Safex-nuus─── 05:00 Thu, 07 Jan 2021
Hierdie verslag word deur Graan SA (GSA) verskaf.
Mielies:
Die Amerikaanse mieliemark verhandel steeds sterk en het goeie ondersteuning gevind die afgelope tyd.
Die goeie ondersteuning aan die Amerikaanse mieliemark kan grootliks toegeskryf word aan die uitvoerverbod wat deur Argentinië in plek gestel is. Dit, tesame met die weerstoestande wat nie heeltemal gunstig is in Suid-Amerika nie.
Die plaaslike mieliemark het gister goeie ondersteuning gevind en het sterker verhandel in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is van wit en geelmielies.
Die witmieliemark het vir lewering in Julie 2021 R47/ton hoër verhandel vir die dag om teen R3 000/ton te sluit. Die geelmieliemark het vir lewering in Julie 2021 R74/ton hoër verhandel om teen R3 130/ton te sluit.
Sojabone:
Die Amerikaanse sojaboonmark het die hoogste vlak in die afgelope ses en half jaar bereik.
Die ondersteuning aan die Amerikaanse sojaboonmark kan grootliks toegeskryf word aan droë weerstoestande in Suid-Amerika tesame met die groot invoervraag na sojabone vanuit China.
Die plaaslike sojaboonmark het gister meestal ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike mark het vir lewering in Mei 2021, R150/ton hoër verhandel vir die dag om teen R8 010/ton te sluit.
Koring:
Die Amerikaanse koringmark het saam met die ander grane en oliesade ondersteuning gevind om sterker te verhandel vir die dag.
Die Amerikaanse koring produksietoestande is tans nie optimaal nie en gedeeltes van die land se produksiegebiede trek swaar.
Die plaaslike koringmark het gister goeie ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.
Die plaaslike koringmark het vir lewering in Maart 2021, R51/ton hoër verhandel om teen R5 085/ton te sluit.
OFM-nuus
