Agri Hour

Vroeë inenting teen slenkdalkoors sal diere beskerm

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 13 Jan 2021

Vroeë inenting teen slenkdalkoors sal diere beskerm | News Article

Dr. Faffa Malan, ‘n bekende veearts, sê inenting sal diere beskerm teen die slenkdalkoorsvirus.

Hy deel dat hierdie virus aborsies by diere kan veroorsaak, sowel as blindheid by mense. 

OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom hieroor gepraat…

Sien onderstaande PODCAST

Malan verduidelik dat die slenkdalkoors ‘n virussiekte is wat oorgedra word deur veral die Aedes-muskiet, gewoonlik ná reënval. Hy noem dat die laaste uitbraak in Mei 2018 in Jacobsdal in die Vrystaat aangemeld is.

Daar is twee tipes entstowwe wat boere van kan kies om verspreiding van die virus te keer. Die eerste entstof staan bekend as die geïnaktiveerde entstof, ook bekend as die dooie entstof. Malan verduidelik dat hierdie entstof gewoonlik vir dragtige diere gegee word, maar dat dit ook vir nie-dragtige diere gegee word. “Omdat dit geïnaktiveerd is - wanneer ‘n mens dit die eerste keer toedien - moet ‘n mens ‘n kragdosis ook gee, ‘n booster,” voeg hy by. Die volgende entstof staan bekend as die lewende entstof, of die Smithburn-entstof.

Hy waarsku boere om diere, wat nog nié ingeënt is nie, nou te doen aangesien hierdie muskiete nou aktief is, veral by waterpoele. Boere word aangeraai om diere jaarliks in te ent.

Een van die simptome in diere is dat dragtige diere aborsies ervaar. Malan raai boere aan om hulle veeartse te kontak wat dan met beskermende toerusting na die plaas toe kom en monsters neem sodat toetse gedoen kan word.

Die siekte is ‘n soönose, wat beteken dat mense dit ook kan kry deur aan siek diere te raak. Malan sê mense wat besmet is met die virus toon griepagtige simptome en dat die virus ook tot blindheid en sterftes kan lei.

Hy sê jagters moet versigtig wees om nie aan bloed van wildediere te vat nie want hierdie diere kan ook slenkdalkoors kry.

Verder waarsku Malan boere dat daar ook bloutong gaan voorkom. Dit word deur miggies oorgedra.



OFM-nuus

@ 2020 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.


  Visit the official Covid-19 Portal  More Information
Visit the official Covid-19 Portal
Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more