Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   05:00 Thu, 14 Jan 2021

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.

Hier is Laubscher…

Sien onderstaande PODCAST

In vandeesweek se insetsel praat Laubscher oor veranderinge in die werkplek weens die coronavirus-pandemie. Hy kyk ook na watter implikasies dit gaan hê vir indiensneming.

“Dit moet gesien word teen die agtergrond van toenemende werkloosheid in Suid-Afrika, in ons streek en ook wêreldwyd as gevolg van die pandemie.

“Die verwagting is dat sodra die pandemie afgeneem het in terme van beperkings en ons uiteindelik weer uit die grendeltyd gaan kom, die ekonomie weer hopelik sal kop optel en dat ons meer mense in diens sal kan neem. Maar wêreldwyd is daar groot veranderings wat gaan volg op hierdie pandemie.

“Ek dink die eerste ding wat belangrik is, is dat mense nie noodwendig weer gaan werk soos in die verlede nie. Werk vanaf die huis of werk buite die kantoor gaan definitief toeneem. Die vraag is as ons dus nuwe werkgeleenthede skep, hoe dit hierdie patroon wat afgedwing was tydens die pandemie nou dalk weer ‘n nuwe praktyk kan word - maar soos in enige werkplek is dit belangrik dat die mense wat werk sosiale beskerming moet geniet.

“Daar is [baie] wette in Suid-Afrika wat dit moontlik maak en eintlik afdwing, maar ons weet ook dat met die pandemie die regering moes ingryp met spesiale maatreëls soos spesiale toelaes… om te sorg dat mense wat sonder werk is ten minste ‘n inkomste het…

“Hierdie sosiale vangnette sal ongelukig ook hersien moet word. Daar word te veel gevra of verwag van die regerings om hierdie vangnette te verskaf. Die nuwe bedeling gaan definitief ‘n kombinasie wees van waar die regering kan instaan, soos byvoordbeeld met werkloosheidsversekering. Maar daar sal ook anders te werk gegaan moet word waar private maatskappye ook in moet staan vir deel van hierdie sogenaamde sosiale vangnette, sosiale sekerheid, of sosiale beskerming.

“Dit is vandag ook so dat die migrasie van arbeid ‘n toenemende tendens gaan word. Minder mense gaan permanent aangestel word. Minder mense gaan lang tye by dieselfde maatskappye werk. Trouens, mobiliteit van geskoolde arbeid gaan eintlik die nuwe normaal word. Die vraag is hoe hierdie mense geakkommodeer kan word buite die tradisionele manier van sosiale beskerming.

“Ons kyk vervolgens na die noodsaak van heropleiding. Nou, tradisioneel as daar nuwe tegnologie uitkom, is ons mense geskool en dan het daardie nuut-geskoolde vermoë of ontwikkeling saamgeloop met die nuwe tegnologie wat toegepas moet word. Dit is ook van groot toepassing op die landbou.

“Wat nou gaan gebeur, is dat met die tegnologiese verandering en die spoed waarmee tegnologie geïmplementeer sal moet word, tot die mate wat dit tradisionele arbeid gaan vervang, daar ook anders gedink sal moet word – hoe mense opgelei moet word, korter siklusse, groter klem op indiensopleiding, en meer mense sal hulle vaardigheidsvlakke moet diversifiseer. Dit gaan ‘n impak hê op wat ons met ons werksgeleenthede sal moet doen.

“As ons kyk na die arbeidsmark vorentoe, het ek reeds verwys na die feit dat meer mense meer mobiel gaan wees. In sekere vaardigheidsgroepe sal mense eenvoudig nie permanent aangestel kan word nie, want wat ons nie nodig het nie sal beteken ons sal van meer mense vinniger gebruik moet [maak].

“Dit gaan ook ‘n impak hê op ‘n groter vraag na entrepreneurskap. Meer mense sal op hulle eie moet werk – maar ons moet ook aanvaar dat nie-permanensie en groter mobiliteit die nuwe normaal gaan wees. Ons weet dat virtuele werk die nuwe normaal is. Werk vanaf die huis [en] van buite die kantoor af het ‘n impak op hoe daar tussen mense gewerk kan word.

“Die ou benadering van spanwerk gaan ‘n totaal ander kleur kry. Mense werk ook toenemend oor grense heen. Dit beteken dat waar jy is en jou vermoë gaan jou indiensneembaar maak. As ons kyk na die skep van werk, moet ons dit saamlees met hierdie nuwe verandering – die werkplek gaan verander en die tipe werk gaan verander met baie groter klem op tegnologie. So, ons werkplek gaan gedigitaliseer word en ons sal dus alles wat ons doen met mense, daarby moet aanpas.

“As ons kyk na die nuwe werkmodelle, dan is dit so dat ons byvoorbeeld groter gelykheid wil hê tussen geslagte, of tussen ouderdomsgroepe. Dit moet ook hersien word. Maar, met die feit dat ons meer mobiel gaan wees, moet ons ook kyk na ‘n anderse definisie van sogenaamde nie-permanente werk.

“Baie mense is nie nou permanent in diens nie en mag dalk buite die statistiese vangmeter wees, maar het nog steeds werk en lewer nog steeds ‘n bydrae tot die ekonomie.

“In die nuwe jaar is dit belangrik dat ons gaan terugsit en kyk, as ‘n werker of werkgewer, hoe gaan ons in staat wees om hierdie veranderings te akkommodeer in die nuwe jaar – veral wat landbou betref,” sluit Laubscher af.



OFM-nuus

@ 2020 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.


  Visit the official Covid-19 Portal  More Information
Visit the official Covid-19 Portal
Cookies help us deliver our services. By using our site, you agree to our use of cookies. Tell me more