On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Hier is van jou hoof landboustories op OFM

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Fri, 15 Jan 2021

Hier is van jou hoof landboustories op OFM | News Article

Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Elsabé Richard lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...

Sien onderstaande PODCAST

Die wynbedryf kan nie die verlenging van die verbod op alkoholverkope bekostig nie. Dit is volgens Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Strydom het sy kommer uitgespreek nadat president Cyril Ramaphosa Maandag aangekondig het dat die verkoop van alkohol steeds nie toegelaat word nie. Strydom sê die organisasie is teleurgesteld dat die regering die roete van ‘n totale verbod gevolg het, in plaas van 'n gedifferensieerde benadering ten opsigte van alkoholverkope. Hy voeg verder by dat voorstelle wat die wynbedryfliggaam Vinpro aan die einde van Desember 2020 aan die regering voorgelê het, blykbaar ook nie deur die regering oorweeg is nie. Die wynbedryf het reeds aansienlike finansiële- en werkverliese gely tydens die eerste en tweede verbod op alkoholverkope in 2020. Strydom meen dat die verlenging van die verbod die finansiële oorlewingsvermoë van baie wynprodusente verder onder druk plaas. Hy sê alhoewel Agri Wes-Kaap die druk verstaan waaronder die gesondheidsorgstelsel verkeer, trek die landbousektor aan die kortste ent weens die gedrag van die algemene publiek.

Terwyl party juig oor die reënval, is daar steeds boere in dele van die land wat nog hoop op goeie reën. Lionel Cloete, ‘n boer uit die Boesmanland-streek in die Noord-Kaap, sê hoewel daar verlede week net sowat 1,5 mm reën op sy plaas geval het, is hy steeds hoopvol dat hulle reën sal kry. Cloete deel dat hy in hierdie stadium net kernkuddes besit nadat die agt jaar lange droogte sy tol geëis het. Hy beskryf verlede week se reënval as ‘n tropiese depressie wat vanaf Namibië oor die Noord-Kaap gekom het. Dit soos, onder andere, die Richtersveld-omgewing en gebiede langs die Oranjerivier vloedskade gely het. Cloete sê verder boere is geweldig afhanklik van hulp, en hy deel dat hulle onlangs kon aansoek doen vir droogtehulp wat wissel van R250 tot R9 000 by die plaaslike regering. Hy sê omdat die droogte al so lank aan die gang is, is die “riem al baie dun gesny” en is daar nie regtig enige reserwes oor waarop boere kan staat maak nie. Daarmee saam sê Cloete is boere dankbaar vir hulp wat hulle ontvang. Dit, soos onder meer twee plaaslike myne onlangs geld geskenk het aan die Steinkopf-boerevereniging.

Warm toestande het die afgelope naweek oor groot dele van die somerreëngebied voorgekom, maar versuiptoestande kom in dele van Noordwes en die Oos-Vrystaat voor. Luidens Landbouweekblad, heers daar terselfdertyd droogtetoestande oor veral die binneland van die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Wes-Kaap, asook dele van die Noord-Kaap. Baie somergraanboere ervaar baie nat toestande. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê vooruitsigte lyk baie gunstig vir verdere swaar reën in die laaste deel van Januarie en die eerste deel van Februarie oor bykans die hele somerreëngebied van Upington in die weste tot verby Ermelo in die Ooste. Die La Niña-stelsel, wat van verlede jaar af heers, het nou sy hoogtepunt bereik en weermodelle dui aan dat dié weerpatrone in die volgende paar maande gaan oorheers.

EN

Inskrywings vir vanjaar se Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe het Maandag 11 Januarie geopen. Groot, medium en klein suiwelprodusente kan inskryf vir hierdie kompetisie. Luidens Isabeau Botha, woordvoerder van Agri-Expo, is hierdie kompetisie die grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis in die land. Botha sê die kampioenskappe lok jaarliks sowat 900 inskrywings van vervaardigers regoor die land. Sy verduidelik dat hierdie suiwelprodukte meeding om die gerekende titels van SA Kampioen, die Qualité-merk van Gehalte, en die Produk van die Jaar, wat aangewys word tydens die glansryke Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings. Die uitsluitlike doel van die kampioenskappe is om uitnemendheid in die suiwelbedryf te bevorder en te erken. Daarmee saam deel Botha dat daar meer as tien kategorieë is wat bestaan uit meer as 100 klasse. Hierdie kategorieë sluit onder meer in kaas, jogurt, melk, room, roomys en botter. Botha moedig ook nuwe vervaardigers van suiwelprodukte aan om vir hierdie kompetisie in te skryf.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.