Agri Hour
Gemeenskappe gemaan om weervoorspellings dop te hou─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 28 Jan 2021
Die Bloemfonteinse weerkantoor maan gemeenskappe om weervoorspellings gereeld dop te hou.
Elani Heyneke van die Bloemfonteinse weerkantoor sê swaar reën kan in dele van Sentraal Suid-Afrika verwag word, wat skade aan gewasse kan veroorsaak.
Hier is Heyneke…
Sien onderstaande PODCAST
Heyneke verduidelik dat ‘n tropiese laag Woensdag oor die oostelike deel van die Noord-Kaap voorgekom het, wat tropiese vog afgetrek het in die sentrale binneland in.
Sy sê die weerkantoor hou hierdie tropiese laag dop omdat daar onsekerheid ontstaan in terme van hoe vinnig dit ooswaarts gaan beweeg.
Wanneer daar na weervoorspellings vir Donderdag gekyk word, sê Heyneke is daar ‘n moontlikheid vir buie en donderbuie oor die oostelike deel van die Vrystaat en Noordwes.
Daarmee saam ontstaan daar ‘n moontlikheid dat buie en donderbuie Vrydag stelselmatig weswaarts, en moontlik ook oor die verre noordoostelike deel van die Noord-Kaap, ‘n groot deel van die Vrystaat en die Noordwes gaan beweeg.
Sy deel dat daar redelike onsekerheid is oor waar daar Saterdag buie en donderbuie verwag kan word. Heyneke sê egter dat dit tans wys dat die oostelike deel van die Vrystaat sowel as die suidelike dele van die Noordwes moontlik buie en donderbuie kan ervaar.
Wat temperature betref, sê sy dat dit dit teen Vrydag redelik koel gaan raak, veral oor die Noordwes, terwyl maksimum temperature teen Saterdag stelselmatig warmer sal word.
Waarskuwings
“Vir Donderdag, soos wat hierdie band ooswaarts gaan beweeg, kan daar verdere oorstromings verwag word met die fokus veral oor die noordoostelike deel van die Noordwes-provinsie en dan op plekke in die sentrale dele van die Vrystaat, asook die oostelike dele. Heel moontlik ook oor die sentrale dele van die Noordwes-provinsie," voeg Heyneke by.
OFM-nuus
